Skip to main content

Tong-in-die-kies sterre, soos voorspel deur Madame Zee

RAM 21 MAR – 19 APR

As jy die afgelope tyd effens emosioneel uitgeput gevoel het, gaan jy bly wees om te hoor dat jy hierdie week lus gaan voel om uiting te gee aan jou kreatiwiteit. Gryp daardie vergete spuitkannetjie of blik verf in die motorhuis en gaan mal. Net nie op die rasende bure se mure of karre nie, asseblief.

Die laaste week in Augustus gaan daar baie verwarring in jou verhoudings met familie manifesteer wanneer Venus ‘n wasige Neptunus in die gesig staar. Hou net jou kop laag en herhaal ‘hierdie week sal verbygaan’.

STIER 20 APR – 20 MEI

Jou komende week gaan nogal ‘n huppel in jou stap sit. ‘n Oorvloed in energie sal jou aanmoedig om ‘n gesonde balans tussen werk en speel te vind, maar jy wil ook jou stresvlakke in gedagte hou en gesonde gewoontes handhaaf. Gesonde gewoontes bedoel nie flirt met die gym instrukteur nie. Nee, dit bedoel net een sjokolade per dag in plaas van vier.

Jy moet hierdie week jou gedagtes mooi orden, want September gaan ‘n groot fokus op liefde en sake van die hart bring. Dalk kom Valentynsdag 5 maande te vroeg! Jy is welkom!

TWEELING 21 MEI – 20 JUN

Drama kwadraat, liewe Tweeling. Dís hoe jou week gaan lyk. Dit kan geblameer word op die son wat jou kommunikasie en gedagtes gaan beheer. Vir die eerste keer hierdie jaar gaan jy die wêreld met duidelike oë sien, wat dit ‘n uitstekende tyd maak om weg te beweeg van almal wat nie jou beste belange op die hart dra nie. Inteendeel, dit gaan sommer vanself gebeur, want jou tong gaan ‘n lewe van sy eie hê en jy gaan goed kwytraak wat jy al lankal opkrop.

Maak seker dat jou versterkwater-voorraaad genoegsaam is. Jy gaan dit nodig kry.

KREEF 21 JUNIE – 22 JULIE

Die planete se ligging tel in jou guns wat finansiële aangeleenthede betref. Steek dus ‘n kers op en vertel die heelal en almal wat wil luister dat jy gereed is om groot rykdom te ontvang! Die laaste week in Augustus sal jy weer die romantiese neiging wat jy al vir so lank wegsteek na vore wil bring. Gebruik hierdie energie as ‘n verskoning om te belê in ‘n paar mooi satynlakens, sexy dekor, geurige kerse of enigiets wat kan gebruik word om jou maat te verlei. Neem gerus ‘voor’ en ‘na’ foto’s. Dit sal jou beslis opkikker. Dis nou van die dekor, nie die romantiese gebeure nie…

LEEU 23 JULIE – 22 AUG

Op hierdie dag kan ‘n geleentheid ontstaan ​​wat nie presies is soos dit lyk nie, en dit is moontlik dat jy vasgevang kan raak in ‘n situasie wat nie die moeite werd is nie. Onthou, as jy nugter is, lyk dinge heel anders as wanneer die voggies loop. Komaan, hoeveel keer het jy nie langs so ‘n situasie wakker geword en gewonder wat jou besiel het nie?

Die laaste week in Augustus sal jy kop stamp met gesagsfigure en jy gaan gefrustreerd voel omdat jy wil gil dat hulle hul werk kan druk, maar jy weet dat jy die geld nodig het, so moenie. September, die maand van vernuwing, lê net om die draai.

MAAGD 23 AUG – 22 SEP

Niemand kan volmaaktheid soos jy tentoonstel nie, liewe Maagd, maar jy moet daarop let dat jy nie onredelike verwagtinge aan jouself stel nie. Gedurende die laaste deel van Augustus reis die son en kwik deur die sektor wat die duisternis en jou onderbewussyn regeer. Die sleutel om hierdie kosmiese klimaat te oorleef, is om te onthou hoe ver jy gekom het en probeer om nie weer in dinge betrokke te raak wat jou voor ‘n landdros gaan laat verskyn nie. Ja, ek weet, jy vervolmaak alles; tot die nonsense wat jy soms aanjaag, maar nou is nie die tyd om alles ligtelik op te neem nie. Wenk: jou bure neem alles met hul sekuriteitskameras op.

WEEGSKAAL 23 SEP – 22 OKT

Vandeesweek sal jy waarskynlik meer aangetrokke voel tot politieke aktivisme en sosiale geregtigheid, maar dit is belangrik dat jy jou blootstelling aan nuus beperk as jy voel dat dit ‘n negatiewe uitwerking op jou psige het. Onthou, jy het nog nie die kuns om te toy-toyi bemeester nie. Vat dinge kalm.

‘n Ou kennis uit jou verlede gaan skielik kontak maak uit die bloute. Gee vir daardie persoon al die briewe wat jy onder in jou hangkas wegsteek, en dan skop jy hom/haar op die maermerrie omdat hulle net jare gelede verdwyn het sonder om koebaai te sê.

SKERPIOEN 23 OKT – 21 NOV

As jy ongetroud is en tans besig is om ‘n maat te soek, dui hierdie kosmiese klimaat daarop dat dit die perfekte tyd sou wees om een ​​van jou vriende te vra om vir jou ‘n toe-oog-afspraak te maak. Aangesien jy op die oomblik meer gefokus is op werk as op liefde, moet jy beslis van hierdie energie gebruik maak om ‘n bietjie te flirt, al loop dit op niks uit nie! Getroude skerpioene voel moontlik minder sosiaal omdat Mercurius nou sterk na vore tree. Hiberneer gerus as jy so voel, maar onthou, jy is nie ‘n beer nie. Skeer en borsel tande, al kruip jy vir die wêreld weg.

 BOOGSKUTTER 22 NOV – 21 DES

Hierdie week sal jou met ‘n warm voel in jou maag en hart laat, liewe Boogskutter. Dit is omdat filosofie en spiritualiteit duidelik in jou planetêre baan lê. Nes met alkoholisme of enige ander verslawing kan sommige mense ook oorboord gaan met goeie dinge. Hou matigheid voor oë en moenie jou naastes probeer bekeer nie. Onthou, party mens kan bekeer van ‘n sog na ‘n beer, maar ‘n vark sal hulle bly.

Fokus eerder op jou eie innerlike vrede. Dit is veiliger.

STEENBOK 22 DES – 19 JAN

Die laaste klomp dae in Augustus kan vir jou ‘n uitdaging wees aangesien jou heersende planeet, Saturnus, teen die son en Mercurius te staan ​​kom. Mense gaan vir jou meer vol van hulself as gewoonlik voorkom, maar probeer om nie toe te laat dat hul opgeblaasde ego’s jou onderkry nie. Ken jy daardie gesegde van die hoogste bome?

Fokus eerder op persoonlike transformasie, want nes ‘n skoenlapper is jy gereed om uit jou winterkokon te ontsnap. Jy gaan ‘n pragtige vlinder wees, en saans, wanneer jy tuis is, kan jy jou verlustig in alles wat vir jou lekker is. En eet gerus daardie ekstra sny sjokoladekoek. Want jy kan!

WATERDRAER 20 JAN – 18 FEB

Die Waterdraer-maan is ‘n baie goeie teken vanaf die 22ste. Aangesien geluk aan jou kant sal wees, is dit die perfekte tyd om enige persoonlike of professionele skuif uit te voer wat jy nog altyd wou. Buiten die gelukbeker wat gaan oorloop gaan dit voel of jy alle inhibisies oorboord wil gooi en iets groots wil aanpak. Solank dit nie bazookas en parlementgeboue insluit nie, doen dit!

As jy voorblaaie haal, maak seker dat hulle jou vir die berigte betaal.

VIS 19 FEB – 20 MAART

Interplanetêre energie kan vandeesweek misleidend wees. Pasop vir wolwe in skaapsklere want as jy dink jy tel ‘n tjoppie by ‘n kroeg op kry jy dalk een met ‘n byt waar jy nie een wil hê nie. Wanneer die son in virgo beweeg, sal dinge vir jou baie duideliker word. Dit sal eers in die eerste week in September wees.

In die tye wat jou emosies jou oorweldig, stop en ruik letterlik aan blomme. Maak net seker dat daar nie ywerige bytjies in is nie. Allergie kan skielik intree. En ‘n knopneus, soos jy weet, is nie ‘n mooi gesig nie.

Leave a Reply