Dr Nicholas Crisp, wat die entstofprogram van die regering bestuur, het gesê dat hulle nie die teiken van 250 000 inentings per dag kon bereik nie, omdat daar te min mense by inentingsstasies opgedaag het.
Dit ondanks die feit dat die land meer as genoeg entstofdosisse gehad het.
‘Ons het nie ‘n tekort aan entstowwe nie, maar eerder ‘n tekort aan bo-arms,’ het Joe Phaahla, minister van gesondheid, Vrydagoggend gesê.
Net meer as 54% van die mense ouer as 60 – diegene wat die grootste risiko loop om ernstig siek te word of aan ‘n Covid-19-infeksie te sterf – is ingeënt.
Die mikpunt van 250 000 inentings per dag is eers op 21 Julie bereik, maar nie sedertdien nie, met minder as 200 000 inentings per dag sedert 29 Julie.
Die afgelope week is nie meer as 180 000 entstowwe per dag toegedien nie, met Vrydag slegs 140 000 inentings.