Skip to main content

Soos in die vorige artikel genoem is tuisskoolonderrig niks nuuts nie.

Tot en met die aanbreek van die Industriële Era was dit die norm, ongeag sosiale klas of stand. Die doel daarvan was eenvoudig: kinders moes die waardes, leefstyl en vaardighede aanleer wat hulle as volwassenes sou nodig hê om in hulle spesifieke klas/stand te oorleef. Voorbereiding vir akademiese studie was nie een van die doelwitte nie.

In die adelklas was die klem op die verwerwing van die sosiale, diplomatieke en taalvaardighede wat van mense in hulle klas/stand verwag word. Vir hierdie doel het hul ouers oor die algemeen die hulp van tutors ingeroep.

In ander klasse was die kinders se onderrig hoofsaaklik die verantwoordelikheid van hul ouers, wat vir hulle die waardes, leefstyl en vaardighede geleer het wat hulle sou nodig hê om die familietradisies voort te sit – byvoorbeeld om eendag, soos hulle ouers, ook veeboere, landbouers, jagters, ystersmede, bouers, timmermanne, ensovoorts te wees. Kinders wat nie in hul ouers se voetspore wou volg nie het egter ook die geleentheid gehad om as vakleerlinge by volwassenes wie se nering van hul ouers s’n verskil om opleiding aan te klop.

Ook in Suid-Afrika was dié tipe tuisskoolonderrig aanvanklik die norm. Na die aankoms van die Britse setlaars en sendelinge uit verskeie Europese lande in Suid-Afrika, het kinders van alle rasse egter ook die geleentheid gehad om in sogenaame sendingskole geletterdheids- en godsdiensonderrig te ontvang. Dit was egter nie verpligtend nie, in elk geval nie tot Lord Charles Somerset se anglisering van skole nie. Dit was egter nie so maklik soos hy verwag het nie: in 1822 het vele ouers, in teenstand teen hierdie beleid, hul kinders uit ‘goewermentskole’ onttrek en tuis begin onderrig. Sodanige onderrig is in sommige gevalle voorsien deur ‘n ‘meester’ wat, in ruil vir sy dienste, by hulle aan huis kon bly. Die gevolg? Leerdergetalle in bestaande skole het drasties geval: van 675 in 1828 tot ‘n skrale 84 in 1939. Desnieteenstaande het geletterheid gegroei, soveel so dat Andrew Murray, ‘n Skotse sendeling, in 1868 sy verbasing uitgespreek oor die aantal mense in die land wat, ongeag geen skoolonderrig, tog kon lees en skryf.

Die taalstryd – tussen Engels en Hollands – sowel as godsdiensstryd (die Anglikaanse Kerk teenoor dié se Nederlands Hervormende ekwivalent – het tydens die periode na die Anglo-Boere oorlog in 1902 nog feller geword. Milner het besluit om deur sy voorgestelde angliseringsbeleid die “taal van die Afrikaners uit te roei” deur veral die Transvaal en die Vrystaat, wat deel van die Britse kolonie geword het, te verengels. In reaksie hierop het ouers of hul kinders uit bestaande staatskole onttrek en of tuis onderrig of na nuutgestigte Nederlandse skole, waarvan daar in 1906 reeds 200 was, gestuur.

Nog was die einde niet. Na Uniewording in 2010 het Generaal Jan Smuts, leier van die Verenigde Party, onder die vaandel van die bevordering van tweetaligheid, bepaal dat alle laerskoolkinders in hul moedertaal, hetsy Engels of Afrikaans, onderrig mag word, maar dat hulle die ander taal as tweede taal moes aanleer. Wanneer hulle hoërskool toe gaan sou hulle egter verplig word om voorgeskrewe vakke in hul tweedetaal te neem. Die uiteinde, aldus Smuts, sou wees dat Afrikaanse en Engelse burgers van die land met mekaar sou verenig. Die Broederbond, wat geensins hierdie redenasie aanvaar het nie, het toe in 1943 predikante versoek om hul ledemate te mobiliseer, om hulle te oortuig om nie hul kinders na die sogenaamde dubbel/parallelmediumskole te stuur nie omdat daarop gemik was om die Afrikaanse taal en karakter stelselmatig uit te roei.

Interessant genoeg was dit in die 1970s ‘n soortgelyke beleid – d.i. sommige vakke in Engels en ander in Afrikaans – deur dieselfde Nasionale Party wat so iets vir Afrikaanses verwerp het, wat tot die 1976 Soweto-opstande gelei het.  Dit is ook die geleidelike oorgang van Afrikaanse skole en universiteite  na dubbel/parallelmedium instansies en die ANC se voorkeur vir Engels as dominante taal, gekoppel aan die  uitskakeling van godsdiensonderrig en die insluiting van seksonderrig in skole wat ouers tans noop om hulle kinders liefs tuis te onderrig. Die vraag op baie ouers se lippe is egter of wat hulle doen wettig is en of dit hulle straks in die moeilikheid kan laat beland.

Die antwoord is nie so eenvoudig nie. Tussen 1900 en 1991 was tuisonderrig slegs toelaatbaar vir Graad 1 tot Graad 3 (voorheen Standerd 1) plaaskinders wat verder as 80 kilometer van ‘n staatskool af gebly het. Ouer kinders moes kosskool toe. Dit was vir die oortreding van hierdie regulasie dat Bokkie Meintjies en sy vrou in 1993 onderskeidelik vir twee en een jaar elk tronk toe gestuur is na ‘n vyf-jaar lange hofstryd teen die regering. Terwyl hulle in Johannesburg aangehou is, is hul kinders in ‘n weeshuis in die Oos-Kaap geplaas en verbied om met hul ouers kontak te hê. Vanaf 1996, toe die Suid-Afrikaanse Skolewet geproklameer is, is tuisskoolonderrig egter wettig. Nogtans is Doddie Kleynhans in 2002 aangekla omdat sy, volgens die Departement van Onderwys, nie al die voorwaardes vir tuisskoolonderrig nagekom het nie. Booonop het verskeie tuisskoolonderrigouers in die Wes-Kaap in 2010 gekla dat die Kaapse onderwysdepartement hulle doelbewus teister en intimideer om hul kinders terug te stuur skool toe.

Feit van die saak is dat, sedert die proklamering van die Suid-Afrikaanse Skolewet in 1996, tuisskoolonderrig een van die drie soorte onderrig is wat in Suid-Afrika wetlike status het. Die ander twee is staatskole en privaatskole. Die insluting van  tuisskoolinstellings in hierdie groep kan deels toegeskryf word aan die stigting van die tuisskoolorganisasie (“Home Schooling Association”) in 1992, tuisskoolvergaderings en/of seminare in Gauteng in 2004, interne departementele navorsing oor tuisonderrig in 2005, die proklamasie van nuwe nasionale Sertifikaatregulasies in 2008, ‘n 2011 nasionale Tuisskoolsensus,  verskeie onderwysbeleidshersieningprosesse wat van 2011 af plaasvind, ‘n parlementêre debat oor tuisskoolonderrig  in 2012, en die globalisering van tuisskoolonderrig in 2016.

Een van die uitkomste van die beleidshersienigsproses was die ontwikkeling van wat as die BELA-beleid bekend staan. Die beleidsontwikkelingproses, wat in 2015 ‘n aanvang geneem het, is egter nog steed nie afgehandel nie. Een van die redes hiervoor is die ontevredenheid van tuisskoolonderrigpraktisyns en kenners met wie daar oor die beleid gekonsulteer is maar wie se aanbevelings eenvoudig geïgnoreer is. Aanduidings is dat, totdat daar ‘n vergelyk in die verband is, die beleidsproses nie afgehandel sal word nie. Wat dus as tuisonderrig mag of nie mag tel nie is dus steeds onduidelik. Wat wel duidelik is, is dat die persoon of persone wat verantwoordelikheid vir die kinders se tuisonderrig aanvaar nie noodwendig in besit van ‘n onderwyskwalifikasie hoef te wees nie en dat hulle nie noodwendig die Staat se kurrikulum hoef te volg

Wat ook duidelik is, is dat, volgens die 1996 Skolewet, voornemende tuisskoolonderrigouers hulself as tuisskoolsentrums en hul kinders as tuisskoolleerders moet registreer. Sodanige registrasie moet by die toepaslike provinsiale onderwysdepartement geskied wat aansoekers van die nodige registrasievorms moet voorsien. Desnieteenstaande is daar na raming tans ongeveer 45% van tuisskoolleerders wat nie by ‘n provinsiale departement geregistreer is nie. Van die redes wat hiervoor aangevoer word is dat die provinsiale registrasieprosesse te kompleks is; dat, benewens die oorkoepelende reëls wat nagekom moet word, provinsiale vereistes en prosedures van mekaar verskil; dat tuisskoolouers wat aansoek gedoen het vir registrasie óf nie die nodige vorms ontvang het nie of, as hulle dit wel ontvang en deurgestuur het, hulle geen terugvoering van die Department gekry nie. Baie van hierdie ouers registreer dan hulle kinders by bestaande aanlyn of ander sogenaamde tuisskoolinstansies.

Volgens die Pestalozzi Trust is die gevolge van nie-registrasie tans nie doodsake nie, bloot omdat die beleid nog nie gefinaliseer is nie. Volgens die Trust kan registrasie plaasvind sodra die beleid gefinaliseer is.

Ander redes wat ouers aanvoer vir nie-registrasie is dat ouers wat wel daarin geslaag het om te registreer, kla dat departementele amptenare eenvoudig sonder ‘n afspraak by hulle huise opdaag om ‘inspeksie’ te doen. Dit, volgens ‘n onderwyswetskenner is in wese ‘n ondermyning van die persoon/persone se privaatreg want selfs as amptenare staatskole besoek moet hulle eers die skoohoof in kennis stel van die besoek en die rede daarvoor. Ouers het dus die reg om toegang aan die amptenare te weier en nogtans voort te gaan met die onderrig. Indien hulle bang is vir die moontlike gevolge kan die Pestalozzi-Trust dien as a veiligheidsnet, d.w.s. as hulle voortydig – voor enige moontlike konflik met die Departement – om lidmaatskap by die Pestalozzi Trust aansoek doen. Die organisasie sal dan vir hulle in die bresse tree sou enige regskwessies opduik.

Let wel: hierdie artikel het egter nie die Skolewet of die artikels wat spesifiek op tuisskoolonderrig van toepassing is in diepte bespreek nie.

Die doel was slegs om aan lesers ‘n idee te gee van wat hulle beleidsgewys kan verwag indien hulle sou besluit om hul kinders uit staat- of privaatskole te onttrek of om, in die geval van voornemende Gauteng Graad 1 leerders byvoorbeeld, hulle nooit skool toe te stuur nie omdat hulle, volgens die agbare Lesufi, net toegelaat sal word as hulle ‘n COVID inentingssertifrikaat het.

In die volgende artikel bespreek ons stap vir stap hoe ouers wettiglik te werk kan gaan om hulle kinders uit ‘n skool te onttrek, vir tuisskoolonderrig voor te berei en te besluit wat hul tuisskoolkurrikulum en onderrig sal behels.

Leave a Reply