Skip to main content

ISAAC CLOETE

Dit lyk asof ‘n sitplek voor in ‘n polisie-van net vir sekere groepe beskore is.

Veral vir die bevoorregtes, terwyl Hondeklipbaai se minderbevoorregtes moet sukkel vir ‘n geleentheid om by ‘n hof uit te kom.

Dit is die gerugte wat nou die rondte hier doen. Dit, nadat die 35-jarige geskeide Chirelda Lombard (35, op die foto bo) laasweek op Springbok gevonnis was vir manslag.

Voor haar vonnisoplegging het haar ouers, Loftus en Rina Badenhorst, gereeld met ‘n polisie-van van Hondeklipbaai na Springbok gereis om haar te ondersteun. Elke keer was dieselfde vroulike AO (aan Die Waarheid bekend)* die bestuurder van die polisie-van.

Inwoners het ook anoniem vertel dat haar ouers waarskynlik  met dieselfde polisie-van en na Upington teruggereis het, voor en na hofverritinge. Dis hier  waar sy aangehou word.

Laas week, tydens haar hofverkyning,  het die ouers weer saam met dieselfde AO na Springbok gereis waar sy tot vyf jaar gevonnis was vir manslag. Dieselfde namiddag het die ouers waarskynlik ook na die Upington-gevangenis gereis, waar sy haar kort vonnis moet gaan uitdien.

Lombard was gevonnis nadat sy haar pasgebore baba in 2018 by ‘n stortingsterrein op Hondeklipbaai gaan dump het.

Terwyl Die Waarheid se joernalis Lombard se saak gedek het was dit opvallend dat Lombard nie by die hof in ‘n sel toegesluit was nie. Sy het in die banke in laerhofsaal gewag totdat sy in die streekshof moes verskyn. Dis ook hier waar die AO haar beskerm het van die media en joernaliste weggehou het.

Twee inwoners van Hondeklipbaai het ook vertel dat hulle op ‘n stadium na die Garieshof, ongeveer 54km verder, moes gaan vir interdikte. Hulle het nie vervoer gehad nie.

Die AO het hulle glo geweier en gesê dat die polisie-van nie ‘n taxi is nie. Ander inwoners van Garies het dit bevestig dat die AO net vir “haar mense omgee.”

Die AO was gevra:

1. Waarom sy net sekere groepe voor in die polisie-van laai van en na hofverrigtinge;
2. Waarom sy vir Lombard (as gevonnisde) voor in die polisie-van gelaai het in plaas van agter;
3. Waarom sy Lombard se ouers verskeie kere na die hof vervoer het.

Haar antwoord was dat sy nie met die media mag praat nie.

Die stasiebevelvoerder (aan Die Waarheid bekend)* op Hondeklipbaai, het gesê:

“Ek het bewus geword van sulke klagtes toe ek hier kom werk het. Dit het glo veral gebeur voor my tyd dat net sekere mense soms met die bakkie na hofverrigtinge vervoer was. Ek sal dit opvolg.”

Oor haar straf  het die biologiese pa van die baba gesê dat hy dit nog verwerk, en later sal reageer, volgens sy prokureur, Emdi Swanepoel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!