Skip to main content

Gerald van Jaarsveld wat voor verlede Donderdag deur rowers in sy huis in Brakpan-Noord geskiet is, is gisteroggend in die hospitaal oorlede.

Volgens inligting wat van die Brakpan-polisie ontvang is, het die voorval in Little Street, Brakpan-Noord omstreeks 04:45 op 28 Julie 2021 plaasgevind.  Drie mans het deur ‘n venster in die kombuis toegang tot die huis verkry.

Die indringers is in die gang deur die egpaar gekonfronteer en een van die rowers het drie skote afgevuur.  Die man is in die maag en been geskiet, terwyl sy vrou ‘n skietwond aan die maag opgedoen het.

Die rowers het toe ‘n bejaarde egpaar wat ook in die huis woon, aangeval.  Die 67-jarige vrou en haar man is na die sitkamer gedwing, waar die rowers kontant, juweliersware en skootrekenaars geëis het.

Die rowers het vier polshorlosies, ‘n TV en ‘n skootrekenaar geneem wat hulle in die motor van die bejaarde vrou, ‘n wit Fiat, gelaai het en van die toneel gevlug.

Nadat hulle vertrek het, is ‘n ambulans ontbied en die beseerde egpaar is na die Verre Oos -Rand hospitaal geneem.

Die paartjie se ses kinders tussen die ouderdomme van drie en 16 jaar was ten tye van die voorval in die huis.

Gerald wat die afgelope tyd in die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal behandel is, het verskeie operasies ondergaan in ‘n poging om sy lewe te red.

Gerald was vier keer in die regterbeen en een keer in die maag getref.

‘n Saak van moord en huisroof word ondersoek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!