Prinses Charlene van Monaco het ‘n nuwe foto op sosiale media geplaas en dit is anders as enige koninklike portret wat jy voorheen gesien het.
Haar Hoogheid lyk soos ‘n vegter, wat gepas is omdat sy besluit het om oorlog te voer teen renosterstropery deur middel van haar #ChasingZero -veldtog.
Die voormalige SA Olimpiese swemmer, wat in 2011 met prins Albert van Monaco getrou het, is herinner aan die lot van die wêreld se renosters tydens ‘n besoek aan Thanda Safari in KwaZulu-Natal. Terwyl sy daar was, het sy die geleentheid gekry om deel te neem aan verskeie pogings tot die behoud van wild, insluitend die verdowing en onthoring van ‘n renoster en sy kalf – ‘n maatreël wat bedoel is om die diere teen stropers te beskerm.
“Dit was waarskynlik die mees traumatiese ervaring wat ek nog ooit gesien het, om te sien hoe ‘n ma en haar baba met ‘n verdoofpyl geskiet word. Ek was baie naby aan die renoster tydens die onthoringsproses. Die dier was erg getraumatiseer. Wanneer ‘n dier wakker word na narkose het dit geen verdedigingsmeganisme nie. Die ma sou nie haar kalf kon verdedig nie en die kalf sou nooit homself kon verdedig nie,” sê sy in haar YouTube -video.
“Dit is ‘n aaklige ding om te sien, maar dit is ‘n noodsaaklike euwel, want die spesie is op die punt om uit te sterf,” het sy bygevoeg.
‘n Renoster word elke 9-12 uur in SA vir sy horing doodgemaak. Haar Hoogheid hoop om hierdie praktyk stop te sit deur bewusmaking en geld in te samel deur middel van haar nuwe inisiatief teen stropery. Saam met die Thanda Foundation Trust jaag sy ‘nul renostersterftes’ na.