Skip to main content

As jy, soos ek, Cyril die afgelope paar jare dopgehou het, sal jy met my saamstem dat hy altyd verwyderd voorkom van dit wat om hom aangaan. En dit wat om hom aangaan, is in ons land aan die gang.

Self gedurende sy inperking-toesprake kom hy as losstaande voor van die boodskappe wat hy oordra. Die algehele opinie onder my binnekring-besprekings is dat hy maar net die marionet is van dié wat eintlik die land regeer. Die naam Rupert lei iewers ‘n klokkie.

Sy verskyning voor die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping is nog so ‘n voorbeeld. Sy onbetrokke woorde en voorkoms kan hom eintlik ‘n baie gevaarlike kandidaat maak. Hy bespreek die benarde situasie waarin ons land hom nou bevind asof hy ‘n koppie koffie in ‘n veilige restaurant bestel en heimlik weet hy dat die eetplek die koffie vir hom in elk geval verniet gaan gee.

Sy glimlag op verkeerde tye, veral waar hy sy diens onder oudpresident Jacob Zuma bespreek, is kommerwekkend. Hoe kon hy nie van enige verwikkelinge geweet het nie? Hoe kon ‘n man (Zuma) met geen formele skoolonderrig ‘n lys vol afgryslike dinge aanvang, en hy het ‘niks geweet nie’?

Hy kom vir die onkundige oog natuurlik voor as ‘n man met egalige temperament, een wat politieke uithouvermoë het, en die regte man vir die sitplek wat hy tans bekleë, maar wat gaan werklik agter die Cyril gordyn aan?

Hy word deesdae onder ‘n vergrootglas bekyk en wat duidelik is, is die feit dat hy hoegenaamd geen ‘bestuurstyl’ het nie. Hoe kon hy, ‘n man wat onaangeraak is deur die chaos, bankrot bankrekeninge van die land, langvinger-kamerade en vrot appels in sy midde, die ANC-leer so verbete met ‘n tikkie geslepenheid klim tot bo? Of was dit net alles ‘n verhoogspel vir die burgers van RSA?

Daar is vermoede dat hy homself sien as Mandela se ‘seun’ maar aan alles wat hy uitbeeld is dit vir my duidelik dat hy agter ‘n skril operakarakter se halwe masker wegkruip.

Terwyl Thabi Mbeki die pos gevul het as adjunk-president het Cyril ‘uit die politiek getree’ en stinkryk geword. Is daar iemand wat hierdie periode vir my kan verduidelik? Na sy fenominale rykdom-pelgrimstog sit hy weer in 2012 skouer aan die wiel waar hy hom by Jacob Zuma skaar, iets wat hom in 2014 Mbeki se titel laat oorneem het, en die mag-skaal duidelik in die Zuma kamp se guns laat tiep het.

Hoe skaar jy jou by iemand wat reeds agter bakhande as korrup uitgewys is? Die Gupta-huweliks gevolg by die Lugmagbasis Waterkloof op 30 April 2013 is ‘n duidelike voorbeeld van die speletjies waarmee Zuma reeds besig was. Het Cyril doelbewus ander pad gekyk omdat hy besig was met sy eie planne vir die toekoms? Hy het immers ‘n wonderlike Valentynsdag geskenk gekry toe Zuma op 14 Februarie 2018 uit sy amp tree…

Stille waters?

Leave a Reply