Skip to main content

Afrikaanse lesers is bitter opgewonde oor die nuus dat die wêreldbekende Belgiese tienerjoernalis Kuifie se boeke weer in Afrikaans gaan verskyn. Maar Kuifie se seksuele voorkeure het ‘n groot debat onder sy ondersteuners laat ontstaan: Is Kuifie gay?

As mens die kommentaar van Kuifie-aanhangers in die gay gemeenskap ernstig opneem, lyk dit beslis so.

Nie net het Kuifie geen erg aan vroue op ‘n ouderdom waar die meeste seuns se hormone die dinkwerk vir hulle doen nie, maar die karakters in die boekereeks is oorweldigend manlik. Regdeur die reeks is daar sowat 350 karakters … slegs agt daarvan is vroue.

Die openlik gay Britse joernalis Matthew Parris lys die getuienis teen Kuifie: Hy dra ‘n serp en snaakse broeke en woon saam met sy middeljarige vriend, ‘n afgetrede matroos.

Vir Parris is die grootste leidraad egter die optrede van Kuifie se hond, Spokie. Spokie is skaamteloos heteroseksueel en sy aandag word gedurig deur wulpse tefies afgetrek, maar Kuifie doen alles moontlik om Spokie se romantiese verhoudings met die skoner geslag in die wiele te ry.

Ander mense meen egter Kuifie het glad nie ‘n seksuele voorkeur nie. ‘n Kuifie-liefhebber skryf op ‘n gespreksforum: “Dit maak nie saak of Kuifie gay is of nie. Hy is nie, maar hy is ook nie heteroseksueel nie. Hy is niks nie. Net soos ek nog nooit gesien het Kuifie gaan badkamer toe nie – dit speel geen rol in die avontuur nie. As die gay gemeenskap Kuifie as ‘n groot gay ikoon sou opneem, dink ek dit sou ‘n hele paar mense pla, maar ek moet sê dit sal my nie pla nie. In my kop is Tintin nie gay nie, maar hy sal in iemand anders s’n wees.”

En wat dink die Waarheid? Ons glo Kuifie kan ‘n goeie weerspieëling wees van wie hom ookal lees. ‘n Gay persoon kan TinTin as gay sien, net soos ‘n Engelse leser TinTin as Engels kan sien. Of ons met die nuwe Afrikaanse vertaling, as Afrikaans.

Miskien moet mens die debat oor die jong joernalis se seksualiteit as ‘n vingerwysing na ons generasie sien. Die moderne debat oor Kuifie se voorkeure bewys dat ons die onskuld van die tyd waarin die boeke geskryf is, verloor het. Die seksualiteit van Kuifie behoort nie die grootheid van die strokiesprent te beïnvloed nie.

Leave a Reply