Ek is nou al heel dag doenig met alles behalwe my boek. En meeste van my gedagtes is by De-bra se besoek vanoggend.
Hoe kon ‘n gewone kuier so vinnig afdraende loop?
De-Bra ignoreer my al heel dag flat-out, en ek kan sien sy lees nie een van die WhatsApps wat ek haar gestuur het nie. Hoekom kan ek nie net leer om menseverhoudinge onder die knie te kry nie?
Want jy like nie mense nie, hoor ek die De-bra stem in my kop.
Dis waar. Mense is gediertes wat meestal kan dink. En…
My selfoon se vibrasie pluk my terug na die hede en ek gryp dit net betyds voordat dit van die tafel af val. Gmf! Dis Marinda, my niggie. Ek het maande laas van haar gehoor. Ek hoop nie daar is weer dood in die familie nie. Of nog ‘n moet-troue nie.
“Hei, nig, jy sal nooit raai wat nie?” begin sy sommer.
“Hier gaan dit ook goed, dankie,” kap ek onnodig terug. My ouma het gesê ‘goeie maniere kos niks’.
“Ag sôrrie man, ek vergeet my maniere as ek opgewonde is. Ek is hier in ‘n eetplek by Emperors, en raai wie sit twee tafels skuins voor my?”
“Elvis?”
“Hahaha. Nee, funny bunny. Dis … De-Bra.” Die naam word gefluister. “En ‘n man. ‘n Hunk van ‘n man.”
“Wa-a-at?”
“Hy lyk soos Magnum PI wat daai tyd op die tiewie was. Ek sal hom sommer kan opslurp sonder ‘n strootjie, en dit op ‘n nugter maag,” kwyl sy oor die foon.
“Wa-a-at?”
“Haak jy vas, nig?” lag Marinda. “Anyway, die man hou heel tyd haar hand vas, en so tussendeur soen hy haar vingers. Lyk ook of haar naels gedoen is.”
“Tussendeur wat?”
Marinda giggel stroperig. Jig! “Slukkies uit sy wynglas, nig. Daai vol lippe klou soos ‘n stuk velcro aan wol wanneer hy drink. Van wanneer af is haar hare pienk?”
“Nugter weet, maar as hy die ou is van wie sy gepraat het, like hy pienk hare.”
“Wa-a-at?”
Ek is nie nou lus om vanoggend se gebeure weer oop te hark nie. “Wat het sy aan?”
“So ‘n lemmetjiegroen afskouer bloesie en…”
“Wa-a-at?”
“Laat ek eers klaar praat, man. Sy het ‘n paar navy spykerhakke aan by stovepipe jeans, en dan die groen toppie wat bokant die broek se rek eindig. Elke keer as sy vorentoe buk om in sy oë te staar, steek die kraak van haar sitplek uit. Wat gaan aan met die vrou?”
“Middeljare is ‘n bok. En ‘n bok…”
“…is ‘n bliksem,” voltooi Marinda my sin. “Anyway, ek wou jou net laat weet wat hier aangaan. Ek weet julle twee was op ‘n kol Siamees.”
“Siamees?”
“By die heup aanmekaargesmelt, Dolla. Almal het daarvaan gepraat. Op ‘n kol het ons gewonder…”
“Wat nogal?”
“Of julle twee… Jy weet mos.”
Nou klim die hardegat maplotter uit my mond. “Ek weet mos wat?”
“Twee girls wat mekaar like, oukei. Daar. Nou weet jy dit ook.”
Die prentjie wat Marinda skep is so snaaks dat ek net daar aan die lag gaan. En ek kan nie ophou nie. Sy probeer iewers ‘n woord inkry maar gee op en druk die foon in my oor dood. Ek? ‘n Matlekker? Nee wat…
Dalk was die effense histerie net omdat De-Bra my so ontsteld het. Of dalk, net dalk, was dit die feit dat ek die gevreesde woord gesê het.
Middeljare.
Dis skielik koud in my huis.
Dis oor jy so nasty was met De-Bra, praat die stem in my kop. En dink jy nie jy was net ‘n bietjie jaloers op die feit dat sy ‘n date het nie?
“Ja oukei, dalk was ek. ‘n Bietjie,” mor ek vir die kastrol in my hand.
Sug.
Net vanaand kook ek iets anders as stirfry om te eet, al vat dit my ure voor die stoof. Net vir De-Bra. O, en vir ‘n verandering.