Herstelwerk aan die beskadigde kragopwekker by Medupi-kragstasie se eenheid 4 kan enigiets tussen R1,5 miljard en R2 miljard kos, het Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, Woensdag gesê.
“Ons is besig met ons ondersoek en het ‘n beduidende hoeveelheid data van ons rekenaarstelsels gekry, wat ons nou reël vir reël sal deurgaan. Ek wil my nie tot ‘n som verbind nie, maar die herstelwerk kan enigiets kos tussen R1,5 miljard en R2 miljard. Ons voorsien dat hierdie herstelwerk tot 24 maande kan duur,” het De Ruyter aan Fin24 gesê.
Beduidende skade is aangerig aan die kragstasie toe die ontploffing Saterdagaand kort voor 23:00 plaasgevind het.