Skip to main content

Hier is jou tong-in-die-kies sterre, soos voorspel deur Madame Zee vir die volgende week.

 

RAM 21 MAR – 19 APR

Jupiter speel ‘n groot rol hierdie week. Jy sal bewus word van gevoelens wat al lankal vergete is. Strome empatie en deernis teenoor jou medemens sal veroorsaak dat jy aan’t bak gaan en net koekies en beskuit wil uitdeel. Uranus, die planeet van individualiteit, rebellie en vryheid sal egter ook ‘n invloed hê op jou vandeesweek. Probeer dus om nie kannabis in die koekies en beskuit te sit nie.

STIER 20 APR – 20 MEI

Die ligging van die planete speel ‘n sterk rol in jou lewe hierdie week. Jy gaan die lawaaierige bure se huis met eiers wil doop, of jou rebelse tiener aan sy/haar stywe nek by die voordeur wil uitsmyt, maar wees net geduldig. Dit sal oorwaai sodra Mercurius met die son verbind. Onthou, tieners word meestal ordentlike grootmense, en hulle moet moontlik eendag vir jou sorg.

TWEELING 21 MEI – 20 JUN

Jy ondervind vandeesweek ‘n stadige transformasie in jou persoonlike lewe. Jy besef dat tyd vir hibernasie straks verby is en ‘n vreemde lus vir die lewe kan jou dalk snaakse dinge laat aanvang. As jy ‘n waks op snaakse plekke oorweeg, maak seker dat die salon goeie resensies het. Daar is ook sterk planetêre invloede met betrekking tot geld, besittings en inkomste. Hou daardie beursie styf toe tot volgende week, behalwe as jy jouself wil bederf met ‘n heerlike plaasontbyt in ‘n klein restaurant.

KREEF 21 JUNIE – 22 JULIE

Met die maan wat gebruik maak van Chiron in Aries sal jy vandeesweek die neiging hê om op ‘n genesingsreis te wil gaan. Jy sal besef dat jou pruttende ongemak niks te doen het met die inperking nie, maar met familie wat jou geduld beproef. Onthou om hul uit jou testament te sny want liefdadigheid begin tuis. As jy dit kan bekostig, boek ‘n reis na die Ooste. As jy platsak is, verbeel jou dat jy op reis is deur na Boeddhistiese gesange te luister, en ‘n lakto-vegetariese dieët hierdie week te volg. Neem gerus ‘voor’ en ‘na’ foto’s. Dit sal jou beslis opkikker.

LEEU 23 JULIE – 22 AUG

Die maan en son vandeesweek in Leo gaan ‘n duidelike invloed hê op jou persoonlikheid. Jy gaan die drang om op die dak te klim en te huil soos ‘n wolf moet onderdruk aangesien die temperature skerp gaan daal. Probeer ‘n nuwe stokperdjie, soos paaldans of gewigstoot, om van die ongewone drange ontslae te raak.

MAAGD 23 AUG – 22 SEP

Dit is tyd om te partytjie hou onder die maan. Maak jou vriende of gemeenskap bymekaar en reël ‘n groot byeenkoms wat nie meer is as Ramaphosa se voorgeskrewe 50 nie. Vergeet jou sorge, dans op wilde musiek, soen iemand wat jy nooit weer gaan sien nie, en hou matigheid voor oë. Het ek vergeet om te sê geniet dit? Skaf vroegtydig ‘n voorraad lewerpille aan in geval dit nodig is.

WEEGSKAAL 23 SEP – 22 OKT

As gevolg van die verskeie planetêre gebeure voel jy asof alles om jou in dramatiese oorgawe gebeur. Die karwag wys met oordadige seine dat jy tog jou ry moet kry, jou kinders is ekstra huilerig oor klein dinge, jou gade sug vir elke liewe ding, en niemand weet wat van die televisie se afstandbeheertoestel geword het nie. Boonop voel jou klere skielik te klein. Hierdie week moet jy tyd aan jouself spandeer. Sluit jouself in die badkamer toe en lê in die warm water met ‘n reuse glas wyn. Oorfone sal help om die gehamer van benoude hande aan die ander kant van die deur te verdoesel. Hulle kan mos buite piepie.

SKERPIOEN 23 OKT – 21 NOV

Die moeilikste aspek van die week is ongetwyfeld Saturnus wat vierkantig teenoor Uranus te staan kom. Dit veroorsaak dat konserwatiewe en gesaghebbende reaksionêre mense jou wil oordonder. Dis oral te sien. Moenie dat hulle die huppel in jou stap breek nie. Vingertaal sal goed te pas kom, veral as jy die een wat in die middel gesetel is kan bemeester sonder om skuldig te voel. Oefen gerus gereeld op ongeskikte bestuurders in karre om jou.

BOOGSKUTTER 22 NOV – 21 DES

Die week begin ook met ‘n groot stapel planete in Waterdraer wat die klem op groepe en gemeenskappe plaas. Daar is ‘n duidelike toonverskuiwing in jou gemoed ten opsigte van dinge wat jy voorheen as belangrik geag het. Vra jouself die vraag af: is dit werklik ‘n skande as iemand buite die eg swanger raak? Is dit werklik so sleg om volpunte te kry met behulp van kripnotas? Laat jou hare los, en pak één ding aan wat jy altyd as taboe beskou het.

STEENBOK 22 DES – 19 JAN

Hierdie week voel dit vir jou of jy eindelose energie het en saans, wanneer jy moet slaap, lê jy en staar vir die dak. Dit kan te wyte wees aan interplanetêre verskuiwings of net te veel koffie. Daar is verskeie maniere om van oortollige energie ontslae te raak. Zumba cd’s is tans op uitverkoping by jou naaste supermark. Of as jy in ‘n verhouding is, probeer matraspolka totdat jou energievlakke beduidend daal. Die goeie ding is dat ‘n week net sewe dae in het. Dit sal spoedig verbygaan.

WATERDRAER 20 JAN – 18 FEB

Dit is tyd vir verandering. Pak daardie groot projek aan waaroor jy al jare wik en weeg. Daar sal vandeesweek ongemaklike kommunikasie vanuit ‘n onverwagte oord kom. Moenie vasskop teen die gevoel wat boodskap in jou hart veroorsaak nie. Soms is dit net goed om inligting in te neem sonder om ‘n persoon se tuiste met ‘n bazooka te wil vernietig. Los dit vir ‘n ander dag.

VIS 19 FEB – 20 MAART

Jy het nou genoeg gehad van masker dra; letterlik en figuurlik. Aan die letterlike een kan jy nie nou veel doen nie, maar aan die figuurlike een kan jy wel berge versit en ‘n reuse gewig van jou skouers af laat val. Sê vir mense wat jy wil sê. Moenie met ‘n vals glimlag rondloop as jy op iemand se voete wil spoeg nie. Vergeet van die ander wang draai. Hierdie is jou kans om die werklike jy weer te bevry. Doen dit!

Leave a Reply

error: Content is protected !!