Mense is emosionele wesens, en in verhoudings sowel as in die werksomgewing is emosie ‘n noodsaaklike deel van kommunikasie. Hoe ‘n persoon verstaan word en hoe hul insette waardeer word, kan baie verskil, met implikasies vir magsverhoudings op elke vlak van die samelewing.
“Sonder dat ons dit eers besef, is ons geneig om emosie te stigmatiseer wanneer iemand dit uitdruk en tot vandag toe voorkom tradisionele geslagstereotipes dat vroue in baie gevalle effektief gehoor word,” sê arbeidsterapeut Buko Toyi, wat by Netcare Akeso Alberton praktiseer.
“Sowel mans as vroue word gesosialiseer om sekere emosies te onderdruk, dikwels met betrekking tot hul geslag. Mans word gereeld grootgemaak met woorde soos dat ‘groot seuns nie huil nie’, maar as ‘n vrou sterk oor ‘n saak voel, is dit meer waarskynlik dat sy ’emosioneel’ genoem sal word.”
“In die werksomgewing het elke persoon die verantwoordelikheid om hul emosies binne die professionele konteks self te reguleer, maar tog moet almal die ruimte hê om emosie binne die gepaste grense uit te druk en om aangehoor te word.
“As dit kom by die uitdrukking van emosies soos frustrasie, ergernis of teleurstelling, word die kragtige of kompromislose manier waarop baie mans geneig is om emosie uit te druk, dikwels geïnterpreteer as ‘passie’. As vroue egter hierdie soort emosies wys, is dit meer geneig om negatief as ‘aanmatigend’ of ‘ongebalanseerd’ beskou te word,” sê sy.
Toyi wys daarop dat die verskil in die manier waarop die samelewing mans en vroue beskou wanneer hulle soortgelyke emosies toon, ‘n weerspieëling is van die onbewuste geslagsvooroordeel in die samelewing eerder as die relatiewe vermoëns van mans en vroue.
“As vroue as ’emosioneel’ beskou word, het dit die neiging dat ander hulle verkeerdelik as minder rasioneel beskou, en dit trivialiseer en verminder die waarde en die impak van wat hulle kommunikeer,” sê sy.
“Die frustrasie om nie gehoor te word nie, tesame met die feit dat dit beteken dat die situasie gewoonlik onaangeraak bly, kan uiters isolerend en demotiverend wees, en dit kan die persoon se geestesgesondheid erg beïnvloed. Ek het persoonlik pasiënte gesien wat spesifiek professionele hulp soek omdat hulle sukkel om hul emosies uit te druk.
“As ‘n beginpunt, glo ek dat ons meer gemaklik moet voel met emosies van beide geslagte en dit in ons samelewing moet normaliseer. As ons nadink oor hoekom sommige stemme skynbaar ‘natuurlike’ gesag in ons daaglikse lewens het en die nodige luistervaardighede ontwikkel, kan dit ons help om werklik te hoor en te verseker dat almal regverdig gehoor kan word. Spreek dus jou gedagtes uit, luister met begrip en laat ons saam groei,” sluit Toyi af.