Die prokureur van Riccardo Spagni, die ontwikkelaar van die SA kripto-geldeenheid wat verlede maand in die VSA gearresteer is, het aangevoer dat sy kliënt op borgtog uitgelaat moet word voor ‘n uitleweringsverhoor, aangesien die bedrogsaak teen hom in SA ‘inherent gebrekkig’ is.
Die 38-jarige Spagni, bekend in die tegnologiekringe as “Fluffypony”, is verlede maand op versoek van die SA owerhede deur die Amerikaanse Marshals in Tennessee in hegtenis geneem.
Luidens hofstukke is Spagni “sonder voorval” gearresteer toe ‘n privaat vliegtuig wat hy gehuur het om hom van New York na Mexiko te neem, in Nashville stilgehou het om brandstof in te gooi.
Suid -Afrika wil hom uitgelewer hê omdat hy na bewering ‘n klein tegnologie-onderneming, Cape Cookies, in 2009 bedrieg het uit ongeveer R1,4 miljoen deur vervalsde en verhoogde fakture in te dien. Hy het onskuldig gepleit.