Een van die vyf sintuie, gehoor, laat ons toe om na ons gunsteling musiekstuk te luister, gewaarsku te word dat ‘n deurklokkie lui of ‘n ander se stem te hoor. Lewe sonder hierdie sin kan produktief en ryk wees, maar daar is ‘n prosedure wat vir baie mense klank kan herstel en hul lewensgehalte kan verbeter.
Deesdae word dit as ‘n redelik roetine prosedure beskou, maar chirurgie vir kogleêre inplantings is nogtans ingewikkeld en word toenemend gesofistikeerd. Dit word slegs by sommige gesondheidsorgfasiliteite aangebied en is onlangs beskikbaar vir pasiënte in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal.
Pieter Botha, ‘n pasiënt wat vroeër vanjaar die tweede kogleêre inplanting in die hospitaal ondergaan het, het sy na-operatiewe ervaring van die wêreld as ‘merkwaardig’ beskou. Dit was uitgevoer deur Dr. Jaco Terblanche, ‘n oor-, neus- en keel -spesialis wat in die hospitaal praktiseer. Botha het die operasie ondergaan na ‘n ernstige motorbotsing in Februarie 2020 waarin hy ernstige beserings opgedoen het.
“Die ongeluk het my gelos met gebreekte ribbes, ‘n gebreekte sleutelbeen, beseerde ruggraat en kopbeserings wat my linkeroor beïnvloed het. Ek was agt en ‘n half weke in die waakeenheid en het mettertyd die gehoor in my linkeroor heeltemal verloor, wat voorheen heeltemal normaal gefunksioneer het.
“Dr. Terblanche het destyds voorgestel dat die kogleêre inplantingsoperasie uitgevoer word, maar ek het soveel trauma van die ongeluk verduur en soveel operasies ondergaan, en op daardie stadium was ek baie huiwerig oor verdere prosedures. Ek het ‘n jaar lank probeer lewe sonder gehoor in my linkeroor, maar uiteindelik het ek besluit om voort te gaan met die operasie. As ek geweet het wat ek nou weet, sou ek nooit gehuiwer het nie,” sê Botha.
Volgens Dr. Terblanche was Botha ‘n goeie kandidaat om die inplanting te ontvang, want terwyl sy koglea beskadig is, was die senuwee nog ongeskonde. ‘n Kogleêre inplanting is ‘n klein elektroniese toestel wat dowes of mense met ‘n swak gehoor kan help om geluide te herken. Die toestel het ‘n eksterne komponent wat gewoonlik agter die oor geplaas word, en ‘n interne komponent wat chirurgies in die oor ingeplant word. Die eksterne klankverwerker vang die klank op voordat dit gefiltreer en verwerk word en in digitale kode verander word. Die interne inplantaat skakel die digitale kode om in elektriese impulse en stuur dit na ‘n elektrode-skikking in die koglea of binneoor. Hierdie elektrodes stimuleer die gehoorsenuwee van die koglea en stuur impulse na die brein waar dit as klank geïnterpreteer word.
“Hierdie prosedure behels redelik gedetailleerde chirurgiese werk, aangesien jy tussen klein gesigsenuwees werk,” sê Dr. Terblanche.
Botha verduidelik dat sy inplantaat nog steeds verfyn word, maar dat sy gehoor in die aangetaste oor reeds aansienlik verbeter is en dat hy telefoonoproepe kan neem en virtuele vergaderings kan bywoon. “Die toestel is regtig baie gevorderd en het Bluetooth-vermoëns, so ek kan nie net die volume van die toestel direk vanaf my telefoon beheer nie, maar ek kan oproepe neem en direk op aanlyn-vergaderings met die inplanting inskakel,” sê hy.
“Sedert die eerste twee inplantings in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal, het ons nou nog vier pasiënte wat vir kogleêre inplanting oorweeg word, en ons sien uit daarna om in die komende maande en jare ‘n verskil in die lewe van baie meer mense te kan maak,” sluit Dr. Terblanche af.