Skip to main content

Sonja Brown sal lesers voortaan elke Vrydag ‘n blik op die wonderwêreld van De-Bra gee.

De-Bra, die voor-op-die wa vrou, het die vermoë om elke gevoel wat mens kan voel op een oomblik gelyktydig aan te aanwakker.

Ek gaan my bes probeer om van haar dinge te vertel, maar moenie my kruisig as julle dink dat ek te kras is nie. De-Bra is ‘so gemaak en so laat staan’ sê sy altyd met trots en ‘n tikkie uitdaging in haar grou oë.

Vat nou vandag as ‘n voorbeeld: sy daag hier op, uit die bloute, nog voordat die son die wêreld behoorlik in die oë kan kyk, en hamer aan my beskeie voordeur.

Met ‘n ‘jy lyk bedonderd’ gly sy teen my half aan die slaap lyf verby en storm kombuis toe. Dis haar gunsteling kuierplek. Sy lig die deksels van twee kastrolle op die stoof op en plak hulle weer toe. “Jy kook ook altyd dieselfde goed,” mor sy en tap water in die ketel.

“Weet jy hoe laat dit is?”

“Huh? Is jy altyd so grumpy in die oggende?”

“Net as iemand my uit die kooi kry voordat die blêddie haan langsaan kraai,” mor ek en haal twee enorme koffiebekers uit die kas. Sy drink baie koffie, en ek is nie lus om gou weer na die eerste koppie gasvrou te speel nie.

“Drie suiker in daai size?” sê-vra sy.

Ek gaap en knik my kop. “Nee, maak dit vier,” korrigeer ek my kopknik. Ek voel so aan my bas dat ek die suiker nodig gaan hê.

“Oukei tjomma, gaan sit solank, ek bring dit.”

Vir wat klink sy so opgewek hierdie tyd van die dag? Dit behoort onwettig te wees.

Sy gee my beker met ‘n breë glimlag aan en ek kan nie onthou dat ek haar al ooit só sien smile het nie. Ek ruik lont…

“Issit nie ‘n lieflike môre nie?” sug sy nadat sy op die bank langs myne gaan sit het.

Dis nog nag. En daar is niks liefliks aan die manier waarop ek uit my warm bed geruk was nie. Ek dog die polisie is op my oor… Newwermaaind.

Sy slurp aan die koffie en ek kan sien dat sy my aspris probeer irriteer daarmee.

Ek gaan nie daarvoor val nie. Sy moet sê wat sy wil sê en dan haar ry kry. So van ry gepraat, hoekom het ek nie haar kar gehoor nie? En hoe het sy by my hek ingekom?

“Hoe het jy by die hek ingekom?” blaker ek die vraag in my kop uit.

Sy lag en lig haar een been langs haar oor verby.

Dis hoe dit vir my lyk, oukei?

“Ek het nou ‘n gat net onder my gaai. Ek het oorgeklim. Hoe anders? En daai spikes wat jy op jou hek laat opsit het werk nie regtig nie. As ek kan oorklim, kan enigeen. My kar is op die sypaadjie. Enigeen wat haar probeer steel sal haar terugbring. Sy rook nou so dat dit lyk of ek op die Bybelse wolk-kolom travel,” lag sy guitig.

Sy praat die waarheid oor die gat in haar sweetpakbroek. Die pienk kant van haar ondergoedjies loer groot-oog deur die skeur.

“I did it!” blaker sy uit en kyk my vierkantig in die oë.

Sy verwag heel duidelik woorde van my kant af, maar ek het geen idee wat sy ge-‘did’ het nie. “Dis … nice?” Hoekom klink my stem so hoog?

De-Bra slaat haarself op die bobeen. “Wat praat jy, mens? Dis verby nice!”

My geduld raak op en ek trek my koffiebeker nader. Dis om my lippe wat haar wil skel besig te hou, natuurlik. Die koffie kielie my tong, maak draaie in my wange, en dan stuur ek dit keel toe. Ah, dis beter. “Presies wát is ‘verby nice’?”

“Jy sal dit nie glo nie, maar ek het ‘n man op ‘n date gevra.”

Dankie tog die koffie was reeds verby my sluk anders was dit katastrofies. “Ja?”

“Ja.”

En verder sê sy niks. Moet mens altyd alles uit haar trek?

“Ek het gehoor hy hou van pienk hare.” Sy beduie na haar kapsel. “Vandaar dié.”

“Pienk?”

“Ja.”

Hierdie pouses tussen die ‘ja’-woorde gaan my mal maak. En ek is hoeka ‘n kandidaat vir so ‘n inrigting nadat ek nie weet hoe om my een boek te laat eindig nie.

“Gaan jy niks sê nie?”

“Jy is die merrie wat vroeg oor my hek spring en ongenooide my stilte kom versteur. Dis nie nou Flinkdink met Edwill van Aarde nie. As jy iets wil sê, sê dit net.”

De-Bra se moesie langs haar neus kry ‘n lewe van sy eie. En as dìt gebeur, dan weet ek sy het haar gewip.

“Nou ja, as jy dan so wil wees, loop ek eerder.” Sy gly ongrasieus uit die leunstoel, druk haar los T-hemp in stadige aksie voor my binne in haar sweetpakbroek want sy weet dit gaan my OCD in eerste rat laat vashaak (enige mens weet jy druk nié jou hemp in jou sweetpakbroek as jy lywig is nie) en kug. “Ek sal jou sien, Geraldien,” groet sy styf.

My naam is nie Geraldien nie, by the way. “Wat het ek verkeerd gesê?”

“Moenie my nou probeer paai nie. Ek is hier om my goeie nuus met jou te deel, dan behandel jy my soos ‘n stief-vriendin.”

“Daar is nie so iets nie,” kap ek terug. Ek is immers die een wie se slaap gesteel was.

“Wel, nou is daar,” kap sy. “En kook tog vanaand iets anders as rys, en stirfry met baby marrows in,” gooi sy oor haar gewigstootskouer en storm by my voordeur uit.

 

One Comment

Leave a Reply