Skip to main content

SA se gewilde 4×100 m-aflosspan het Donderdagoggend tydens die Spele in Tokio in die uitdunne uitgeval as gevolg van ‘n mislukking tydens die eerste oorgee.

Clarence Munyai en Shaun Maswanganyi het meer gelyk soos twee hansworse as na lede van ‘n span wat om ‘n medalje kon meeding.

In ‘n bisarre fratsvertoon het Munyai, wat die aflos begin het, byna vasgehardloop in Maswanganyi, wat nie vinnig genoeg weggespring het nie.

Al hul teenstanders het na die binnekant van hul bane verskuif om die oorgee van regterhand na linkerhand te vergemaklik, behalwe vir Munyai wat aan die buitekant van die baan gehou het.

Munyai was deel van die span wat vroeg in Mei goud by World Relays in Pole verower het, hoewel hy toe die derde been gehardloop het.

Die arme anker Akani Simbine, Sondag vierde in die individuele 100 m, kon niks anders doen as om te kyk hoe die gruwelvertoning afspeel nie. Dit was dieselfde vir Chederick van Wyk, gekies as ‘n reserwe, maar wat sou deelneem nadat Gift Leotlela die naweek beseer is.

SA was nie die enigste opspraakwekkende slagoffers nie, met die VSA wat ook nie vir môre se eindstryd gekwalifiseer het nie.

Die aflosspan was Suid-Afrika se laaste realistiese oorblywende medaljehoop.

Leave a Reply