Skip to main content

Die pa van ‘n erg beseerde baba, bekend as Baby T, het gister in die Noord-Gautengse hoër hof in Pretoria getuig hy het nooit enige kontak alleen met die kind gehad nie. Die ma was glo “ongelooflik beskermend oor die baba”.

Die kind het 31 frakture regoor haar liggaam gehad toe sy op die ouderdom van vyf maande in die hospitaal opgeneem is.

Die 24-jarige man en sy nou voormalige vriendin word aangekla van onder meer poging tot moord, kindermishandeling asook verwaarlosing.

Albei het onskuldig gepleit.

Verskeie dokters wat die kind in die hospitaal ondersoek het, het getuig hoe moeilik dit was om ‘n baba se bene te breek, aangesien hulle op daardie ouderdom buigbaar is. Hulle het ook getuig dat ‘n groot hoeveelheid krag gebruik moes word om die kind se bene te breek.

Die dogtertjie was skaars twee maande oud toe sy in April verlede jaar vir die eerste keer in die hospitaal opgeneem is omdat sy nie kon asemhaal nie. X-strale het ‘n aantal gebreekte ribbes aan beide kante van haar liggaam geopenbaar, beide oud en nuut.

Die pa het gister getuig hy het geen beserings op die baba opgemerk nie, behalwe vir ‘n blou merk in haar gesig.

Hy het gesê hy en sy voormalige vriendin het nie saamgewoon nie, maar dat hy af en toe by sy kind en haar ma oorgeslaap het, maar sy het hom nooit toegelaat om op sy eie na die baba te kyk nie.

Hy het getuig voor die baba se eerste opname in die hospitaal, het die ma en baba vir ‘n paar nagte by sy huis oorgeslaap toe die baba skielik ophou asemhaal. Hy het mond-tot-mond-asemhaling toegepas voordat hulle die baba hospitaal toe gehaas het, waar dokters frakture op die kind se ribbes gevind het.

Kort voor die tweede geleentheid toe die baba met nog meer frakture in die hospitaal beland het, het die ma en kind ook vir ‘n paar dae by die pa se huis oorgebly. Die pa het egter gesê hy het destyds niks ongewoon aan die baba opgemerk nie.

“Die ma was die primêre versorger en sy het al die besluite oor die baba geneem. Ek het nooit ‘n enkele minuut alleen saam met die baba deurgebring nie.

“Ek sou nooit my baba benadeel nie. Ek was lief vir my kind, en ek sal nooit toelaat dat iemand haar skade berokken nie,” het die pa getuig.

Die ma sal na verwagting vandag getuig.

Regter Hennie de Vos is op die bank.

Leave a Reply

error: Content is protected !!