Hier is Madame Zee se tong-in-die-kies sterrevoorspelling vir die week van 8 tot 14 Augustus. As jy ‘n Vis is, neem die voorspelling met ‘n ekstra knippie sout – Madame Zee se eksman is ‘n vis.
RAM 21 MAR – 19 APR
‘n Jupiter/Pluto-mengsel kan in die algemeen op jou verhoudings fokus. Hierdie planetêre mengsel kan ‘n moontlike belangebotsing beklemtoon. Bly weg van kombuismesse af, en tel tot tien elke keer wanneer jy getroef word. Tronklewe is nie lekker nie.
STIER 20 APR – 20 MEI
‘n Beheerkwessie, of dit nou werklik is of net waargeneem word, is moontlik die oorsaak van ‘n onverstandige besluit. Moenie in hierdie week enige huweliksaansoeke aanvaar nie. En as jy oorweeg om te bedank, gaan lê iewers in die son tot die gevoel oorwaai. Werk is inderdaad skaars.
TWEELING 21 MEI – 20 JUN
‘n Jupiter/Pluto-mengsel tree tans vir Gemini’s soos ‘n diagnostiese hulpmiddel op, veral wat persoonlike indrukke betref. Dit is belangrik om te onthou dat almal nie is wie hulle voorgee om te wees nie. Daardie ou man wat vir jou lekkergoed aanbied het heel moontlik iets onder die belt in gedagte, en as iemand vir jou sê ‘jy lyk goed’ moenie huiwer om te vra wat hulle wil hê nie.
KREEF 21 JUNIE – 22 JULIE
Jy dink dalk dat dit ‘n goeie week kan wees om klein verhoudingsprobleme aan te spreek, maar dit is nie so nie. Jy gaan net weer teen ‘n muur vas praat, en dit wat jy wil sê gaan teen jou maat se rug afrol. Koop eerder vir jouself ‘n klein geskenkie, soos ‘n bos blomme of ‘n droëvrugte ruiker as jy met die inperking gewig opgetel het, en stuur dit aan jouself. Laat daardie persoon in jou lewe besef dat iemand anders as hy/sy jou waardeer.
LEEU 23 JULIE – 22 AUG
‘n Jupiter/Pluto-mengsel kan veroorsaak dat jy ou koeie uit die sloot wil grou want persoonlike vervulling is iets wat sterk in jou agterkop sit. Onthou: ou koeie word vinnig biltong. Aangesien dit juis nou rugbyseisoen is, koop eerder vars biltong en skreeu vir die bokke. Vergewe jou vyande en groet hulle met ‘n glimlag. Dit sal erge verwarring in hul lewens veroorsaak, en jou wraak sal beslis soet wees.
MAAGD 23 AUG – 22 SEP
Jou gewoonlik betroubare instinkte is vandeesweek die kluts kwyt. Vermy komplikasies deur nie R5-stukke by verkeersligte uit te deel nie, en moet ook nie aan enige telefoniese verbruikersopnames deelneem nie. Jou hoë verwagtinge sal ‘n knou kry as jy dink dat jy dalk vandeesweek die Lotto sal wen. In kort: kry ‘n sieknota en bly in die bed met ‘n goeie boek geskryf deur Dirk Lotriet of Sonja Brown.
WEEGSKAAL 23 SEP – 22 OKT
Hierdie week gaan jy dit moeilik vind om gemotiveerd te voel, danksy die onverwagte verskyning van ‘n ou probleem. Herkou bring niks in die sak nie. Dit gaan jou net weer van voor af ontstel, en jou vriende wil nie meer dáárdie storie hoor nie. Lê laag totdat die week verby is. Skaf Netflix aan as jy moet. SABC programme is gagga. Onthou, die drankwinkels is net oop tot Donderdag.
SKERPIOEN 23 OKT – 21 NOV
Hierdie gaan ‘n holderstebolder week wees. Jy gaan moontlik lus voel om groot bedrae geld iewers te verwed, maar as gevolg van die Pluto/Jupiter-mengsel sal ek dit nie aanraai nie. Koop eerder iets wat jou hande sal besig hou. Soos wol en breinaalde. Of ‘n dik Sudoku boek. Of skryf daardie boek wat al lankal in jou kop is. (Die Waarheid kan dit vir jou redigeer.) Volgende week sal alles rustiger wees, en dan sal jy bly wees dat jy dié raad gevolg het.
BOOGSKUTTER 22 NOV – 21 DES
Hierdie week gaan jy redelik konstruktief wil wees. Maak net seker dat jy alles wat jy doen op ‘n video neem. YouTube betaal nogal baie as jy meer as ‘n miljoen kykers kry. Vermy liefs die ‘kyk, ek bou ‘n volgrootte huis met vuurhoutjies’ ding. Dit gaan langer as ‘n week neem. Probeer iets soos ‘kom ons kyk hoeveel sandkorrels pas in my eks se splinternuwe kar, en die een wat reg raai kan die kar kry’. Sterkte!
STEENBOK 22 DES – 19 JAN
Hierdie week gaan jou behoorlik troef, maak nie saak wat jy doen nie. Die Pluto/Jupiter-mengsel is tans ‘n energie-tapper vir jou sterreteken. Gebruik daagliks vitamien-aanvullings, en as dit nie help nie, kyk elders op ons webwerf vir ‘n heerlike MaiTai resep. Dit sal help dat jy jou sorge vergeet. ‘n Ander alternatief is om te leer opera sing. Dit bring groot vreugde vir buurmense. Behalwe as jy Dirk Lotriet se vrou is.
WATERDRAER 20 JAN – 18 FEB
Hierdie week dryf iets jou om uitspattig te wil aantrek, of al jou hare af te skeer. Die Pluto/Jupiter-mengsel veroorsaak ‘n korttermyn toestand beter bekend as ‘ek wil weer jonk en wild wees sindroom’ Die dra van maskers vererger net die toestand, en die ideale oplossing is om heeltemal naak in jou agterplaas te dans op liede soos ‘Born to be wild’ en ‘Wild thing’ totdat die bure die polisie bel.
VIS 19 FEB – 20 MAART
Iemand probeer jou vandeesweek ‘n rat voor die oë draai. Ek vermoed dit kan die regering wees, maar jy sal meer duidelikheid kry hieroor op die 10de. Jy sal iets gewaag wil aanpak, maar maak seker dat jy nie later spyt sal wees daaroor nie. Tatoeëermerke is permanent, dus moet jy by ‘n kundige aanklop as jy so iets wil aanvang. Vermy ook liefs hierdie week enige oproepe na ou kêrels/nooiens ná alkohol-inname.