Skip to main content

Die afsitter het die pistool afgevuur om ‘n baie belangrike wedren te begin.

Cyril is in die eerste baan, en die wedloop is een van die strafste waarvoor hy tot nog toe weggespring het. Gaan hy goud verower, of gaan hy met ‘n kammapyn in die sy langs die veld gaan lê terwyl die res van die kabinet gaan uithou vir ‘n plek op die soustreinpodium?

Die skare begin al hoe harder skree dat Cyril sy span moet skommel, maar gaan hy luister, of weer maak of niks verkeerd is nie?

Kritiek vlieg vanuit die toeskouers oor die manier waarop hy die Julie se vlaag van geweld hanteer het, en hy probeer om nie sy ore daarvoor uit te leen nie.

Fikile Mbalula se naam is ook op almal se lippe. Fikile, die man wat die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se ongeoorloofde vlug op ‘n staatslugmag-vliegtuig se reis na Zimbabwe weggepraat het deur te sê dat die weermag nie sy toestemming nodig het om reise te onderneem nie, aangesien hulle “in beheer van die lug was”.

Mbalula is ook die man wat hom in September 2020 gedistansieër het van die skandaal waarin ‘n ANC-afvaardiging onder leiding van die party se sekretaris-generaal Ace Magashule oor die Zambezi gevlieg om samesprekings te voer met die regerende party van Zimbabwe, Zanu-PF.

Mbalula slaan dan ook op 22 Julie vanjaar sy naam met ‘n yster (sy plank-dae is lankal verby) gedurende ‘n onderhoud met BBC se HARDtalk. Die man het nie die knaters om te erken dat sy party die bydraende faktor was in die onlangse oproer in ons land nie. Instede daarvan ry hy op die holrug ‘koloniale onderdrukking’ perd.

Hy rep geen woord van die kriminele entiteite wat Jacob Zuma se vrylating-eise gebruik het as ‘n skerm vir grootskaalse plundery nie. En hy praat nog minder oor die smeulende lont in die kruitvat van die miljoene jeugdiges wat werkloos is nie. Ons amptelike werkloosheidsyfer is 32,6%!

Van die buiteperde wat van korrupsie verdink word begin nou in ‘n bondel om ‘n stywe draai saamdrom… Jacob Zuma, Ace Magashule, Sindiswa Gomba, Danny Msiza, Zandile Gumede, Mike Mabuyakhulu, en Thembalethu Ntuthu… Die wete dat hulle nie sommer die paal gaan haal nie is duidelik op hulle gesigte te sien.

Plofbare bewerings gons natuurlik weer oor president Ramaphosa, en dit word deur baie beskou as ‘n magstryd om beheer oor die ANC en Suid -Afrika self. Party-faksies het net meer gevestig geraak sedert oud-president Jacob Zuma (77) in Februarie 2018 gedwing is om as president te bedank te midde van wydverspreide bewerings van korrupsie, wat hy steeds ontken.

Buiteperd Mkhwebane se drafhempie sit te styf om haar lyf maar sy beur voort ten spyte van die skare wat haar boe.

Die ander drawwers se asems raak op, en die sekondes voel al langer. Bheki Cele, Ayanda Dlodlo en Nosiviwe Mapisa-Nqakula het nie eers die finaal gehaal nie. Hulle sit lankal langs die ANC-baan.

Wie anders se meulstene gaan hulle ‘n plek op die podium kos?

Net tyd sal leer…

Leave a Reply