Skip to main content

Bennetta Swanepoel is in 1942 gebore. Dit is dieselfde jaar wat Duitsland terugslae in Stalingrad en El Alamein beleef het, die Japanese Singapoer verower het, en die massamoord op Jode in Auschwitz begin het.

As kind in ‘n huis waar haar pa as ‘n myner gewerk het, was daar geen luukshede nie, en sy onthou hoe hulle enigste vermaak die mynhope agter hul huis in destydse New Era in Brakpan was. Sy het matriek met vele onderskeidings geslaag, maar omdat die gesin so arm was, kon sy nie haar droom om dokter te word verwesenlik nie. Sy moes gaan werk om te help dat daar genoeg kos op die tafel kom vir eie broers en susters, halfbroers en -susters asook stiefbroers en –susters nadat haar ma, – ‘n weduwee wat met 8 kinders agtergelaat is, weer getrou het met ‘n Pool.

Haar lewensverhaal is nes die van baie ander gesinne in Suid-Afrika. Sy het gedoen wat sy moes omdat dit die norm was.

Sy onthou 1994 goed, en as 52-jarige was sy opgewonde oor die beloftes wat Nelson Mandela gemaak het. Beloftes wat ons land in ‘n Utopia sou omskep.

Niemand het geweet dat sy alles oor die jare in die land dopgehou het nie. Tot gister.

“Weet jy, as ek die dag doodgaan wil ek vir die Here vra hoekom daar so baie skelm mense in ons land is,” het Bennetta uit die bloute gesê. “As mens al die geld wat die regering vanaf die begin van hul skrikbewind gesteel het moet bymekaar tel is daar wragtig nie genoeg nulle op my sakrekenaar nie…”

“Ek laat my kop in skaamte sak, en ek ken nie eers daardie mense nie.”

Dís hoe ons land tans vir ‘n 78-jarige oumagrootjie lyk. Hoe lyk die land vir jou?

Leave a Reply

error: Content is protected !!