Skip to main content

SONJA BROWN

Suid-Afrikaners is in snelrat op pad na armoede en hongersnood, en nêrens wys dit duideliker as in Brakpan aan die Oos-Rand nie.

Die dorpie het in die verlede met ‘n oudwêreldse myndorp-sjarme gespog, maar al die herinneringe aan die goud-voorspoed van weleer is deur verval vervang.

Die Waarheid het vandag by al die pandjieswinkels en plekke wat op groot borde adverteer dat hulle ‘unwanted gold’ koop ingeloer.

“As ‘n ma met haar kind se fiets by my pandjieswinkel inloop, en met trane in haar oë sê dat daar nie ‘n ander uitweg is nie, want die koskaste is leeg, dan breek my hart,’ sê Ria, eienaar van Ria’s Pawn Shop in Voortrekkerstraat, Brakpan.

“Mense het niks meer om te verkoop nie. Hulle loop hangskouer hier in, bely dat hulle nou ‘klaar is met alles’, en dan probeer ons hulle moed inpraat. Ek weet nie vir hoe lank ons mense nog gaan kan staatmaak op die Bybel vir behoud nie. Hoeveel keer moet jy bid voordat jy uiteindelik genoeg gehad het?’

“Kyk rond in die winkel. Jy sal iets van alles hier kry. Net nie horlosies nie, want die dorp is vrot van goedkoop Pakistani horlosies. Ons koop dit nie aan nie want dit is niks werd nie.’

Sy is die enigste een wat haar naam gegee het. Al die ander wou anoniem bly.

Volgens al die pandjieswinkels se bestuurders kan hulle aflei hoe erg dit met gesinne gaan wanneer hulle kyk wat die mense inbring om te verpand. Die families bêre hul televisiestelle vir laaste, en as dit ‘ingebring word, dan weet ons die mense is nou down and out’, sê die een bestuurder sag.

“Wat sê jy vir iemand wat met twee tange en ‘n skroewedraaier inkom? Dat jy hom nie kan help nie? Nee, ons kan die desperaatheid in hulle verslae oë sien. Armoede is ‘n bliksem. En Covid het dinge vir die reeds arm gemeenskap vererger,’ vertel ‘n ander bestuurder.

“Dit gaan al die afgelope 4 jaar baie erg hier,’ vertel ‘n vroulike bestuurder. ‘Mense het net eenvoudig nie meer geld oor nie. Weet jy hoe desperaat mense is as hulle fone wat op kontrak is hier probeer verpand?’

Sy sê verlede jaar het dit goed gegaan, want Brakpanners het koopkrag gehad. Tydelike koopkrag – werkloosheidsversekering, afleggingspakkette, pensioene wat uitbetaal het toe mense hulle werke verloor het…

‘n Kennisgewing in hulle winkel lui dat as jy items reeds vir 12 aaneenlopende maande verpand het, kan jy dit terugkoop sonder die rente. Teen daardie tyd het hulle reeds die goedere se waarde oor en oor uit mense se sakke verhaal.

Die een winkel wat goud aankoop was onlangs rot en kaal besteel. Die inbrekers het deur die voorste ruit gebreek in die middel van die nag. Vanweë inperking het niemand iets gesien of gehoor nie. Van die gebreekte glaskaste binne-in die winkel is nog nie vervang nie. ‘Ons kry deesdae baie ou mense wat antieke goue en silwer erfstukke uit hul kluise aan ons kom verkoop. Die stukke wat baie waardevol lyk smelt ons nie. Ons stal dit uit en hoop om versamelaars te kry wat dit sal koop.’

Gainsborough, die oudste pandjieswinkel in Brakpan, lyk trietsig. So asof dit met genade aan die lewe bly.

Oral is winkels wat nie eers hul deure oop het nie. Binne-in is dit karig gemeubeleerd. Meeste winkels het dik tralies voor die vensters. En elke tweede winkel het name en eienaars wat vanuit ander lande kom. Pakistan is loshande die voorloper.

Die algehele indruk van alles en almal in net hierdie een straat: stukkend. Stukkend soos die asblikke, soos die pleister op meeste mure, soos die siele wat verslae hoop dat more beter as vandag sal wees…

Leave a Reply

error: Content is protected !!