Skip to main content

ISAAC CLOETE

“Om aan ‘n vermeende buitelandse dwelmbaas borgtog te gee, grens aan verraad.”

Dis die vasberade reaksie van ouers in die Springbok-omgewing nadat borgtog onlangs aan ’n vermeende dwelmbaas toegestaan is.

Landdros Fiona Hess (v) het Vrydag besluit om borgtog van R5 000 aan die Nigeriër Christian ‘Mystical” Onovo, toe te staan. Hy moes ook sy paspoort inhandig en moet hom elke Vrydag aanmeld by die Springbok polisiestasie.

Onovo is deel van elf persone wat vermoedelik by ‘n dwelmsindikaat betrokke was, volgens die staat. Hulle was vroeër die jaar in Kaapstad en Springbok deur die polisie en Valke in hegtenis geneem nadat dit oor maande infiltreer was.

Die drie Nigeriese verdagtes,  Onovo, Nduko Basil Eke en Joseph Chukwubuka staan sedert 8 April tereg op klagtes van dwelmhandel en die verspreiding daarvan. Eke het reeds borgtog van R3 000 ontvang, terwyl Chukwubuka steeds in aanhouding is, volgens die Valke se woordvoerder, Nomthandazo Mnisi,

Aanvanklik het ‘n plaaslike prokureur in Springbok, Ben van Zyl, die Nigeriese verdagte verdedig. Toe dit neuk om borgtog vir hom te kry, het hy die hulp van die Kaapse advokaat William Booth ingeroep.

Selfs Booth moes verskeie kere na Springbok reis om die verdagte, Onovo, tydelik los te kry. Booth het hom soms baie vervies omdat die saak so baie kere uitgestel moes word. Een keer, byvoorbeeld, weens ‘n stukkende hofmasjien. Daarna ‘n tekort aan ‘n landdros en ook weens ‘n tekort aan ‘n staatsaanklaer.

Tydens hulle vorige verskyning op 1 en 2 Julie het Hess besluit dat die partye hulle slotbetoë skriftelik moes indien om tyd te bespaar.

Intussen voel die publiek sterk dat die hof  hulle gefaal het. Baie voel dat die landdros die verdagte te simpatiek gesind was. Ander voel dat Booth se soms bombastiese en intimiderende houding die landdros genoop het om tog borgtog aan die verdagte te gee.

Kapt Paul Swartbooi het gesê dat die dwelmhandelaars nie borgtog verdien nie en met mening uit die gemeenskappe verwyder moet word. Of gedeporteer moet word.

“Dwelms het erge trauma in ons gemeenskappe, soos Steinkopf, veroorsaak … emosioneel en finansieël. Die dwelmbase pleeg griewelike misdade tenoor ons mense.”

‘n Burgerregte-aktivis, Sarel Stone (voorsitter: ArfriForum) het as ‘n lid van die publiek kommentaar gelewer. Hy het driftig gesê:

“Dit is absoluut verraad om aan veral buitelanders borgtog van ‘n skamele R5 000 te gee. Ons mense word vernietig deur dwelms en borgtog grens aan moord. Ons mense, veral die wat gebuk gaan onder dwelms, word hierdeur verraai.

Een ouer het anononiem gesê sy verwag die verdagtes sal steeds voortgaan met dwelmhandel. Volgens haar is R5 000 niks en vir Onovo soos om ‘n pakkie chips te  gaan koop.

Die staatsaanklaer was Basil “Jaquar” Kock.

Leave a Reply