‘n Omstrede wildboer van Limpopo en ‘n sakeman in Mpumalanga het elkeen borgtog van R50 000 vir die onwettige besit van renosterhorings gekry.
Dawie Groenewald en Schalk Steyn, ook bekend as AB, is verlede Woensdag deur die Valke aangekeer nadat hulle met 19 renosterhorings wat hulle vervoer het, betrap is.
Kolonel Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het gesê die geraamde waarde van die horings is R2,6 miljoen. Daar word verdere ondersoek ingestel om vas te stel of die verdagtes verbind kan word met nog misdade.”
Groenewald en Steyn het aanvanklik Donderdag voor die hof verskyn in Nelspruit, maar die saak was tot Vrydag uitgestel. Borgtog is aan hulle toegestaan op voorwaarde dat hulle een keer ‘n week by hul plaaslike polisiekantore aanmeld en dat hulle met geen getuies kommunikeer nie.
“Steyn is ook opdrag gegee om sy paspoort aan die ondersoekbeampte te oorhandig. Groenewald het reeds sy paspoort aan die polisie oorhandig as deel van sy borgtogvoorwaardes in ‘n ander saak. Hy het in 2010 in die hof verskyn en die saak is nog hangende,” het Mogale gesê.
In 2010 is Groenewald en nog tien ander, waaronder sy vrou Sariette, in hegtenis geneem na ‘n ondersoek van 15 maande wat hulle na bewering verbind het met ‘n onwettige renosterstropery wat vier jaar geduur het. Meer as tien jaar later duur die saak nog steeds voort.
In 2014 is Groenewald verbind met ‘n Tsjeggiese renosterstropingsindikaat, maar hy ontken enige bande. Steyn is die eienaar van AB Safaris in Mbombela en jag oor die hele land.
In die afgelope dekade is daar byna 10 000 renosters al verloor weens stropery.