Volgens die SAPS se waarnemende provinsiale kommissaris, majoor-generaal Tommy Mthombeni, het hulle met die samewerking van die Valke, trio-taakspan en veiligheidstrukture 19 voertuigkapers in hegtenis geneem en twee doodgeskiet.
Die polisie het inligting ontvang oor ‘n groep mans wat van plan was om verskillende rooftogte in die provinsie uit te voer.
“Toe die polisie vroegoggend Vrydag 23 Julie 2021 by die huis langs Rangeviewweg in Dalpark, Brakpan, aangekom het, het hulle daarin geslaag om 19 verdagtes aan te keer tydens die klopjag.”
“Die polisie het drie R5-gewere, vier AK47’s, twee pistole en twee plofbare ladings gevind wat gereed was vir gebruik. Daar is ook nege voertuie ontdek, waarvan vier van die voertuie as gekaap of gesteel aangemeld is,” het Mthombeni gesê.
Een van die verdagtes wat vermoedelik probeer vlug het tydens die klopjag het na bewering ‘n vrou van haar Volkswagen Golf 5 gekaap, toe hy van die polisie probeer wegjaag het.
Gautengse hoofwegpatrollie wat op ‘n oproep van ‘n gesteelde motorvoertuig gereageer het, het die verdagte langs Jubilee-weg vasgetrek waar ‘n skietgeveg ontstaan het, en ‘n polisiebeampte noodlottig gewond is.
Die provinsie het die 72-uur-aktiveringsplan ingestel om te verseker dat al die nodige hulpbronne om hierdie voorval te ondersoek, gemobiliseer word. Die span is besig om die leidrade op te volg.
Die bestuur van die Suid-Afrikaanse polisiediens sal boodskappe van medelye aan die familie van die vermoorde polisiekonstabel stuur. Die bestuur van die provinsie in Gauteng is daartoe verbind om die beampte se familie die nodige ondersteuning te bied gedurende hul tyd van rou en daarna.
Die SAPD doen beroep op enigiemand met inligting oor die voorval, waar van die verdagtes moontlik tydens die klopjag die inhegtenisneming vrygespring het, om die SAPD se Stop Misdaad nommer 08600 10111 te kontak of ‘n ‘tip-off’ te stuur op MySAPS App.