Skip to main content

Daar kan baie venyn agter ‘n mooi glimlag en ‘n wulpse lyfie skuil, het ‘n sakeman van Bronkhorstspruit onlangs tot sy eie nadeel agtergekom.

Die diamanthandelaar Louis Liebenberg waarsku mans in vaste verhoudings dat vriendskappe met ander vroue baie maklik in ‘n nagmerrie kan ontaard.

Sy eie mooi vriendskap met ‘n aantreklike blonde joernalis het in ‘n vete ontwikkel wat hom uiteindelik meer as R1,6 miljoen gekos het, hom in ‘n situasie wat hy as afpersery ervaar het laat beland het en iemand na aan hom daartoe gedryf om haar eie lewe te probeer neem.

“Ek het die voormalige Beeld-joernalis, Teresa Coetzee, probeer help toe sy vir my vertel het hoe swaar sy geldelik kry. Dit het vinnig ‘n situasie geword waar sy my oorreed het om haar skeidingspakket by Beeld twee of drie keer aan haar te betaal of nuwe matte vir haar huis te koop uit vrees dat sy haar weergawe van ‘n “verhouding” aan sy jarelange vriendin, Ronelle Kleynhans, sal uitblaker.

Wat hom egter die heel seerste gemaak het, was dat Coetzee op 10 Desember verlede jaar ‘n groot bedrag geld uit sy beursie gesteel het.

Liebenberg en Coetzee het by ‘n restaurant, The Italian Kitchen, in Emperor’s Palace naby die OR Tambo Intenasionale Lughawe gaan eet. Hy onthou dat die geselskap krapperig was en hulle ‘n paar keer vasgesit het.

Op pad terug het Antonio, die eienaar van die eetplek, hom gebel en hy het omgedraai.

By die restaurant het Antonio ‘n kringtelevisievideo vir hom gewys waarop gesien kan word hoe Coetzee geld uit sy beursie steel toe hy badkamer toe is. Die video wys duidelik hoe sy sy skouersakkie oopmaak, ‘n bedrag kontant daaruit verwyder, dit vinnig tel en dit daarna behendig in haar handsak laat verdwyn.

Liebenberg raam die bedrag wat betrokke was, op etlike duisende.

Volgens Antonio is dit nie die eerste keer wat Coetzee lang vingers in die restaurant tentoongestel het nie. Dit het voor hierdie voorval reeds meer as een keer gebeur.

Die ergste was egter ‘n geleentheid by dieselfde eetplek waar sy hom met “jig-medikasie” bedwelm en die inhoud van sy selfoon gesteel het.

Liebenberg het onlangs besef dat sy vriendskap met Coetzee nie net ‘n duur tydverdryf is nie, maar ook nie bevorderlik vir sy verhouding met Kleynhans is nie en hy het probeer om alle bande met Coetzee te verbreek.

Sy het wild op die nuus gereageer. Sy het onder meer ‘n webblad van een van Liebenberg se ondernemings gekaap en vir Kleynhans al die gesteelde inhoud van Liebenberg se foon gestuur – insluitende ‘n georkestreerde gesprek waarin Liebenberg en ‘n ander vriendin ‘n strik vir Coetzee probeer stel het deur te maak of hulle in ‘n vurige seksuele verhouding betrokke is.

Hierdie selfoonboodskappe het daartoe gelei dat Kleynhans ‘n ineenstorting beleef het.

“Ek het juis probeer om waaksaam te wees omdat ek in die verlede erg deur ‘n Italiaanse vrou en haar familie ingeloop is en stabiliteit en vrede in my verhouding met Kleynhans wou kry,” sê Liebenberg.

*Die Waarheid het Mevrou Coetzee sedert Vrydag verskeie kere per telefoon, sms, WhatsApp en per e-pos gekontak. Ons het vir haar skermgrepe uit die video gestuur, asook ‘n afskrif van ‘n boodskap wat sy aan meneer Liebenberg gestuur het om hom om verskoning te vra oor die diefstal. Sy het tot dusver geen kommentaar gelewer nie ondanks ons ruim tydsvergunning. Ons sal ons lesers op hoogte hou indien sy haar kant van die saak sou wou stel.

3 Comments

Leave a Reply