Die Johannesburgse liedjieskrywer en sangeres Angelique Greffrath het pas haar eerste Engelse enkelsnit Safe Outside uitgereik en met dié liedjie bereik sy nie net nuwe musikale hoogtes nie, maar vestig haarself nou ook as ‘n Engelse liedjieskrywer.
Safe Outside draai om die verlies en pyn wat met die Covid-19-pandemie saamloop.
Dit is asof die nuwe generasie liedjieskrywers uit die trauma, wat deur die pandemie meegebring is, nuwe inspirasie put wat duidelik te sien is in hul sterk lirieke en musiek.
Dié liedjie, vertel Angelique, moet hoop vir die wêreld bring. “Aan die een kant vertel die liedjie die storie van hoe ons ons familie, vriende, byeenkomste en kuiers in die verlede net as vanselfsprekend aanvaar het. Aan die ander kant is die liedjie ‘n metafoor vir hoe alles vinnig tot ‘n einde kan kom, maar ook dat daar nog maar eintlik altyd ‘n pandemie aan die gang was – ‘n pandemie van wraak, gierigheid en liefdeloosheid.”
“Safe Outside se lirieke is uit my trane gebore,” vertel Angelique. “Die idee was om aan die oorweldige gevoel uitting te gee, maar die resultaat was meer as dit. “
Angelique sê: “Hoewel dié pandemie fisiese isolasie veroorsaak, beteken dit nie dat ons alleen hierdeur moet wroeg nie. Ons hoef nie alleen te wees nie, en ons is ook nie alleen nie.”