Skip to main content

Nog ‘n SANW-lid is in hegtenis geneem, hierdie keer na ‘n transitorooftog by ‘n vulstasie in Oudtshoorn op 19 Julie.

Die kaptein, wat verbonde aan die Infanterieskool op Oudtshoorn is, is Vrydag in hegtenis geneem. Hy sal die vierde verdagte wees wat aangekla word nadat drie van die verdagtes reeds kort na die voorval in hegtenis geneem is.

Die arrestasie is deur die Valke en die Attaqua K9-eenheid van Oudtshoorn uitgevoer nadat veiligheidswagte van Fidelity Cash Solutions beroof is terwyl hulle kontant by ‘n vulstasie ingevorder het.

Een van die veiligheidswagte is deur twee gewapende rowers oorval.

Minute na die rooftog het die Valke-span drie insittendes van ‘n Nissan Sentra in hegtenis geneem. Dit het gelei tot die beslaglegging van die veiligheidswag se vuurwapen en ‘n verseëlde geldsak. Daar was ook ‘n tweede vuurwapen gevind waarvan die reeksnommer verwyder is.

Die Valke-span het ook ‘n volledige stel SANW-uniform in die Nissan Sentra gevind.  Nie een van die drie insittendes is lede van die SANW nie. “Die baadjie het ‘n Lojale diensmedalje op gehad met die naam en rang van die SANW-lid.”  het Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, gesê.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die tweede voertuig wat in die rooftog gebruik was, ‘n wit Toyota Tazz met vals nommerplate was.

“Die wit Toyota Tazz het van die misdaadtoneel weggejaag en langs ‘n silwer/ blou Nissan Sentra stilgehou en die gesteelde goedere is van die Toyota Tazz na die Nissan Sentra oorgeplaas.  Op 21 Julie het die Valke-span inligting opgevolg wat deur die Oudtshoorn-speurders deurgegee is, oor waar die verdagte voertuig geparkeer was.  Hulle het die voertuig in ‘n motorhuis van ‘n koshuis in Oudtshoorn, nie ver van die Infanterieskool gevind. Die stel valse nommerplate wat in die rooftog gebruik is, is in die voertuig gevind.”

“Dit het gelei tot die inhegtenisneming van die SANW-lid wat na verwagting vandag in die landdroshof in Oudtshoorn sal verskyn op aanklagte van roof met verswarende omstandighede.” het Hani gesê

Leave a Reply

error: Content is protected !!