Skip to main content

Tiger Brands, die grootste voedselvervaardiger in Suid-Afrika, het Maandag aangekondig dat hy ongeveer 20 miljoen KOO- en Hugo-blikkiesprodukte herroep weens veiligheidsprobleme as gevolg van potensieël defektiewe blikkies.

Dit kom neer op ‘n herroeping van 9% van die jaarlikse produksie en die finale impak sal na raming tot R650 miljoen beloop. Tiger Brands se aandeelprys het aanvanklik ná die aankondiging Maandagoggend met 6,40% gedaal.

Die probleem met die blikkies: daar is ‘n foutiewe synaatlas wat kan veroorsaak dat die blikkies lek. Dit is aanvanklik in Mei vanjaar op 18 blikkies by een van Tiger Brand se fasiliteite ontdek. Die blikkies kom van ‘n ander verskaffer. Alhoewel die spesifieke lot en verskeie ander nie aan die handel vrygestel is nie, het ‘n ondersoek vasgestel dat sommige blikkies uit ‘n ander foutiewe groep wel in winkels is.

Daar is ‘n toets gedoen en uit 287 040 blikkies wat ná ‘n vervoer- en hanteringstoets geïnspekteer is, het ‘n synaatlek in twee blikke ontwikkel. Dit het die herroeping aangespoor.

“‘n Lekkasie in ‘n blikkie hou ‘n risiko in vir sekondêre mikrobiese besoedeling nadat die ingemaakte produkte na die mark gestuur is. Waar sodanige besoedeling plaasvind, is daar ‘n lae waarskynlikheid van siekte as die besmette produk verbruik word,” het Tiger Brands gesê in ‘n aankondiging.

“Die finansiële impak van die herroeping, insluitend die koste van die potensieël geaffekteerde voorraad wat afgeskryf kan word, vervoer- en bergingskoste, sowel as die verlies aan winste op die teruggekeerde voorraad, word geraam op tussen R500 miljoen en R650 miljoen.”

KOO-ingemaakte vrugte en KOO-ingemaakte ‘pilchards’ vis word nie hierdeur geraak nie.

Leave a Reply