Wat weet ons van die voormalige hoof van teenintelligensie by die Staatsveiligheidsagentskap (SSA)?
Ons weet:
- dat hy gereeld in die nuus was nadat daar beweer is dat hy die land se intelligensietoerusting gedokter het ten gunste van oudpresident Jacob Zuma wat hom persoonlik uit ‘n provinsiale regeringsdepartement in KwaZulu-Natal verwerf het vir sy “seldsame vaardighede”.
- dat hy weer vandeesweek in die kollig geplaas was toe daar beweer is dat hy een van die twaalf mense is wat deur die staat ondersoek word vir hul beweerde rol in die onrus wat die geplunder en vandalisme in KwaZulu-Natal en Gauteng veroorsaak het.
- dat hy van vinnige outomatiese motors hou. Audi is sy gunsteling-handelsnaam.
- dat hy graag ‘n donker sonbril, leerbaadjies en hoede dra, nes die spioene in die flieks, en woon verkieslik in stil woonbuurte met hoë mure en ‘n rits veiligheidskameras. Sy een huis in Durban is glo gefortifiseer.
- dat swart sy gunstelingkleur is.
- dat hy homself beskryf as ‘n “skrywer (sy boek getiteld ‘The Encounter: Ambassador Thulani Dlomo’), leier, veranderings-agent, (wat dit ookal mag beteken) en ja, as topspioen”.
- dat hy ‘n Umkhonto-we Sizwe-agent was en glo deur die KGB opgelei was in Rusland en Oos-Duitsland, en spesialiseer het in spioenasie- en burgerlike toesigmodules.
- dat voordat hy na Pretoria verhuis het om vir die SSA te werk, hy as sekuriteitshoof vir die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in KwaZulu-Natal gewerk het.
- dat die SSA hom afgedank het omdat hy afwesig was sonder verlof ná sy terugkeer uit Japan
Hierdie week het hy baie mense laat wonder of hy die meesterbrein agter die verwoestende gebeure van verlede week was. Hy verskaf natuurlik geen inligting hieromtrent nie. Net ‘n skewe, alwetende glimlag.