Skip to main content

ISAAC CLOETE
Vir die afgelope paar weke vat ‘n vreemde voorwerp verskeie foto’s van die ryk minerale.

Die vreemde voorwerp is niks anders nie as ‘n soort drie-dimensionele skandeerder of sensor wat aan ‘n helikopter gemonteer is. Dit maak gebruik van SkyTEM-tegnologie om lugfotos te neem van die ryk minerale en -reserwes in die Nama Khoi gebied, met Springbok as hoof- en sleutelsentrum.

Volgens Christo Craill, projekbestuurder van die Raad vir Geowetenskap (RGW) is hulle statutere mandaat die nasionale geowetenskaplike kartering van onder andere die land se minerale-reserwes.

Die RGW doen hierdie geskiedkundige opname in samewerking met Orions Minerals(OM). Laasgenoemde het vroeër die jaar aangekondig dat hulle die ou kopermyne van die destydse Okiep Copper Company(OCC) gaan oorkoop.

Tans is die Nama Khoi-area hulle teikengebied vir opnames en dit is ook ‘n eerste vir hierdie minerale-ryke omgewing.

Die gebied wat gefotografeer word strek vanaf Springbok in die suide tot by Bulletrap in die noorde, Nigramoep in die weste en Hoits in die ooste.

Die SkyTEM-stelsel kan tot ‘n diepte van 500m onder die aardkors die foto’s  neem. Sodoende kan hoë resolusie drie-dimensionele beelde saamgestel word van die verskeie luggeofisiese data.

Die luggeofisiese-opname vind plaas vir ongeveer 40-50 dae vanaf  21 Junie tot 31 Augustus. Dit is ook baie waardevolle data vir die landbou, omgewing, grondwaterbronne en die ontwikkeling van die plaaslike infrastruktuur.

Volgens Craill mag die publiek die inligting en data van die geofisiese-opnames bekom deur hom te kontak by 082 776 3216.

Intussen sal die inwoners van Springbok maar gewoond moet raak aan die “naaldekoker” se “vreeslike” gedreun, wat ‘n mens laat dink aan die Valke se helikopter wat moontlik weer iewers wil toeslaan.

* Aan die ander kant tel inwoners van die ou kopermyndorpe, soos Nababeep, Okiep en Carolusberg letterlik die maande af voordat nuwe mynbedrywighede weer hier kan begin. Die area worstel met groot armoede en werkloosheid. Volskaalse mynbedrywighede  het na 2003 hier gestop.

Volgens Errol Smart, besturende direkteur en hoof uitvoerende beampte van OM behoort hulle teen volgende jaar hier te begin met hul werksaamhede.

Hy het intussen die OCC-myne se kantore en ‘n uitgebreide databasis vir ongeveer R25milj bekom. Die totale koste van die myntransaksie kan R183milj beloop met ‘n aanvanklike koste van R86milj vir die eerste fase.
Dit het intussen bekend geword daar daar aanvanklik 11.5milj ton koper-erts gelewer kan word volgens nuwe data. Dit kan egter tot oor die 30 milj ton per jaar opgestoot word.

Leave a Reply