Skip to main content
KultuurLeefstyl

Mieliepap bly koningskos

By Jul 23, 2021No Comments

Wie het nou gedink dat mens sulke lekker disse kan optower met gewone mieliepap?

Franse pap omelette

Bedien: 2

Pap Franse roosterbrood:

250 ml (1 koppie) water

5 ml (1 teelepel) sout

125 ml (½ koppie) mieliemeel

3 eiers, geklits

60 ml (4 eetlepels) botter

Sout

Vulsel:

Bessies, jogurt, heuning, geroosterde neute en dadels

Metode:

Maak eers stywe pap: Gooi die water in ‘n kastrol en voeg die sout by. Bring tot kookpunt.

Sodra die water begin kook, verminder die hitte. Voeg die mieliemeel geleidelik by en roer met ‘n klitser tot glad.

Bedek die kastrol en verlaag die hitte tot die laagste stelling op jou stoof. Jy kan die pap so nou en dan roer. Na 30 minute behoort dit gaar te wees.

Sprei die pap dun uit op ‘n standaard bakplaat en laat dit afkoel.

Sny die koue pap in vierkante.

Klits 2 van die eiers in ‘n bak. Doop die snye stywe pap in die eiermengsel, net soos met die brood as jy Franse roosterbrood sou maak.

Klits die oorblywende eier.

Smelt die botter in ‘n crêpe-pan en giet die geklitste eier asook die eierbedekte papskywe daarin. Wag totdat die eier begin stol en begin dan om die eiers te vou soos wanneer jy ‘n omelet maak.

Plaas die papomelet op jou opdienbord en bedek met bessies van jou keuse.

Skep heuning bo-oor en bedruip met jogurt. Rond af met dadels, geroosterde neute en nog bessies indien verkies.

Pap Arancini.

Bedien: 6

Bestanddele:

500 ml (2 koppies) water

5 ml (1 teelepel) sout

250 ml (1 koppie) mieliemeel

3 sirkels fetakaas, gekrummel (opsioneel, laat weg indien verkies)

150g mozzarellakaas

125 ml (½ koppie) koekmeel

2 eiers, geklits

100g gedroogde broodkrummels

500 ml canola-olie (2 koppies) vir braai

Metode:

Maak eers stywe pap. Giet die water in ‘n kastrol en voeg die sout by. Bring tot kookpunt.

Sodra die water begin kook, verminder die hitte. Voeg die mieliemeel geleidelik by en roer met ‘n klitser tot glad.

Bedek die kastrol en verlaag die hitte tot die laagste stelling op joustoof. Jy kan die pap so nou en dan roer. Na 30 minute behoort dit gaar te wees.

As jy die fetakaas gaan gebruik, voeg dit by die pap in die kastrol. Meng goed.

Laat die pap afkoel.

Sny die mozzarellakaas in blokke.

Skep van die afgekoelde pap in die palm van jou hand, plaas dan ‘n blok mozzarella in die middel, bedek die kaas en vorm ‘n bal. Herhaal dit met die res van die bestanddele.

Plaas die meel, geklitste eiers en krummels in aparte bakkies. Rol die balletjies eers in die meel, dan in die eier en laastens in die krummels.

Verkoel die balletjies vir 30 minute.

Verhit die olie in ‘n kastrol en braai die balletjies goudkleurig en bros.

Dreineer op kombuishanddoek en bedien dit warm met ‘n doopsous indien verlang.

Leave a Reply