Skip to main content

Polisielede wat by die Durbanse hawe werk, het glo geweet van die inhoud van die vraghouer van Formalito Edms. Bpk. wat op 10 Julie om 11:06 van Singapoer af by die hawe aangekom het.

Marco van Niekerk, uitvoerende hoof van Outdoor Investment Holdings, het Maandag gesê hulle het reeds op 6 Julie ’n volledige stel dokumente van die besending vir die polisie gegee.

“Dit is aanvaar en as sodanig was hulle deeglik bewus van wat in die Durbanse hawe sou aankom,” het Van Niekerk gesê.

Outdoor Investment Holdings is die beheermaatskappy van Formalito, wat die ammunisie ingevoer het.

Van Niekerk het verder gesê voorheen is soortgelyke besendings wat in Durban aangekom het onder embargo vrygestel vir inspeksie in Johannesburg of Pretoria. Hulle het glo verskeie versoeke aan die polisie gerig om die besending vry te stel.

“Maar hulle het daarop aangedring dat die inspeksie in Durban moet plaasvind en het die besending na ’n plaaslike vraghouerperseel in Durban gestuur.”

Hy het ook gesê dat die vraghouer waarin die ammunisie was, verseël was met ’n permanente seël wat slegs onder polisietoesig in die stadium van in- en uitvoer gebreek kan word.

Volgens Van Niekerk is meer as 1 miljoen patrone gesteel.

“Die meeste daarvan was 9 mm-patrone wat verkoop sou word aan private individue, wetstoepassers en private veiligheidsmaatskappye.”

Van Niekerk sê die besending is die aand van 11 Julie deur gewapende veiligheidsmense na die vraghouerperseel geneem.

“Weens die aard van die vrag kon dit nie in die hawe bly nie,” het hy gesê.

“Dit was ook onmoontlik om die besending direk by die inspeksiedepot af te lewer omdat dit gesluit was weens die onluste en geweld wat plaasgevind het.”

Die volgende dag, Maandag 12 Julie, is die polisie weer ingelig dat die besending wag om geïnspekteer te word. Die vraghouer is egter twee dae later op Woensdag 14 Julie geplunder nog voordat dit geïnspekteer kon word of deur doeane vrygelaat kon word.

“As jy die datums in ag neem, is dit duidelik daar was geen haas aan die kant van die owerhede nie.”

Van Niekerk sê hul onderneming voer al meer as 55 jaar vuurwapens en ammunisie in en verkoop dit.  “Ons verstaan die ingewikkeldhede hiervan goed.”

Die polisie handhaaf ’n dawerende stilte oor die diefstal.

Bronne het Maandag gesê dis te verwagte dat die polisie niks oor die diefstal sal sê nie omdat dit onder hul oog plaasgevind het.

Die bronne sê ook daar was geen bewaking of veiligheid vir die vraghouer nie. Dit het ook nie, soos vroeër elders berig is, op twee ander vraghouers gestaan nie. Volgens die bron was dit op ’n sleepwa.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gesê die diefstal en herwinning van ammunisie tydens die onluste is die nommer een saak wat tans ondersoek word.

“Om die ondersoek nie te belemmer nie, sal ons in die stadium nie kommentaar kan lewer nie,” het hy gesê.

Leave a Reply