Skip to main content
Opinie

Vriendskap word hel op aarde

By Jul 21, 2021No Comments

Vriendskap met ‘n aanvallige Wes-Randse blondine het vir die sakeman Louis Liebenberg in hel op aarde ontaard.
“Ek kan nie ontken dat ek haar geselskap geniet het nie. Maar ek kan ook nie ontken dat sy my afgepers het en uiteindelik meer as R1,6 miljoen uit my uit het nie,” vertel Liebenberg.
Volgens hom het die vrou, die joernalis Teresa Coetzee, hom onder meer probeer verlei, geld by drie geleenthede uit sy beursie gesteel en hom bedwelm met pille wat hy tot vandag toe nog nie kon identifiseer nie.
“’n Vriendin, Mariette Pretorius, het in 2018 Teresa aan my voorgestel by Pizza Vino in Aucklandpark. Sy sou ‘n berig in die Beeld koerant skryf oor die galageleentheid vir die dig- en skryfkompetisies van die Facebook-gemeenskappe Skryf jou Storie en Diggroep vir Beginners en Begaafdes, wat in 2018 by Emerald Casino plaasgevind het.
“Sy het vir my vertel dat dit swaar met haar gaan en dat sy nie geld vir kos vir haar kinders het nie. Vertel hoe arm sy is. Ek het vir haar R10 000 gegee.
“Later was ek in die Kaap vir besigheid. Sy het vir my vertel dat sy fietsry in Oudshoorn, maar dat ‘n ander fietsryer – ene Raymond – haar teister. Hy het haar been glo vasgegryp terwyl sy motor bestuur het en met haar probeer vry het. Sy het my gevra om deur te kom Oudtshoorn toe omdat sy ‘getraumatiseer’ is.”
Liebenberg sê in Oudtshoorn het Teresa vir hom vertel sy is baie moeg en het gevra of sy in sy kamer kan lê. In die kamer het sy vir hom gesê sy kry koud en hom gevra om haar vas te hou. Hy het dit geïgnoreer en haar na haar eie verblyfplek teruggeneem.
Daar het sy hom vir koffie ingenooi, maar hy het aan haar verduidelik dat hy nie koffie drink nie. Hy het egter wel in haar kamer ingegaan.
“Sy het my vasgegryp en probeer soen, maar ek het gesê nee, dis nie deel van die deal nie,” vertel Liebenberg. Sy wou weet of ek nie lus was vir haar en of sy nie vir my mooi is nie. Ek het vir haar vertel dat ek in ‘n uitgerekte verkragtingsaak aangekla word (Liebenberg is later vrygespreek) en dat seks die laaste ding in my gedagtes is. Ek het haar egter my vriendskap aangebied.”
Maak of hy Fredel is
Liebenberg en Coetzee het gereeld begin gesels en ‘n vriendskap het ontwikkel. Liebenberg bieg dat hy haar intelligent gevind het. “Die gedeelte bo ‘n vrou se skouers interesseer my redelik,” sê hy.
Later die jaar, omstreeks Desember, het ene Charmaine vir Liebenberg gebel. Coetzee het sy nommer vir haar gegee, en glo vir haar gesê dis haar man, Fredel, se telefoonnommer.
Charmaine was die Raymond wat saam met Teresa fietsgery het en vatterig was se vrou. Dit het toe aan die lig gekom dat sy al ‘n geruime tyd ‘n seksuele verhouding met Raymond het en Charmaine het dit vir Liebenberg vertel, menende dat sy met Fredel praat.
“Ek het my maar as Fredel voorgedoen, en aan Charmaine vertel haar man loop rond,” sê Liebenberg. “Maar dit het te veel vir my geword en ek het vir Teresa gesê sy moet verantwoordelikheid vir haar optrede aanvaar.”
Volgens hom was Coetzee terselfdertyd betrokke in ‘n verhouding met ‘n ander man, ene Garth, ‘n sakeman van Muldersdrift. Sy het glo ook aan Liebenberg gebieg dat sy sleg voel omdat sy seks met die bekende sanger Matthys Roets gehad het enkele ure voor sy motorfietsongeluk. Hulle het glo baklei en hy is in ‘n woedebui by haar weg.
“Dis bog!” het Roets aan Die Waarheid gesê. “Sy praat nonsens. Ek was op pad van Bloem na die KKNK en het my ongeluk by Dewetsdorp gehad. Dit het niks met haar te doen gehad nie.”
Met verloop van tyd het hulle goeie vriende geraak, vertel Liebenberg. Hulle het baie persoonlike goed met mekaar bespreek en mekaar oor ‘n lang tyd dikwels twee maal ‘n week gesien.
“In ‘n stadium het ons gevry. Ek het probeer daaruit kom, maar ek het besef ek is vas,” sê Louis.
“Elke keer as ons bymekaargekom het, wou sy geld hê. Ek het ophou tel by R1,6 miljoen. Intussen het Media24 – Teresa se werkgewer – gereeld oor ‘n tydperk van jare onvleiende berigte oor my geskryf. Ek en Media24 was nie maats nie.”
Namakwaland
In hierdie tyd wou Liebenberg in die media ‘n storie laat doen oor die geveg van die mense van Namakwaland, wat deur groot maatskappye ingeloop en verarm word.
“Teresa wou die storie doen, maar Media24 sou nie stories oor my plaas nie.
In hierdie stadium het sy vete met die radio-omroeper en TV-persoonlikheid Izak du Plessis reeds agt maande geduur. Gedurende hierdie tydperk verskyn ‘n artikel oor Liebenberg in die Rapport koerant waar Izak beweer dat Liebenberg hom dreig en dat sy lewe in gevaar is. Tydens ‘n latere gesprek het Izak – “al weer dronk” – vir hom vertel sy kar se enjin het gebreek en gevra of Liebenberg hom kan help. Hy het ook in trane gebieg dat hy verlief is op Jackie Haynes, Ralph Haynes se weduwee, en dat hy nie die geld gehad het om die tantieme wat hy haar vir haar boek geskuld het, gehad het nie.
In ‘n FaceBook Messenger-gesprek met Jackie het Haynes aan Liebenberg gesê dat sy ‘n joernalis van Huisgenoot ken, ene Marizka Coetzer, wat vir g’n duiwel stuit nie. Hy het haar toe gevra of sy die Namakwaland-storie sal doen.
Hy het haar Kaap toe laat vlieg, en van daar het sy per bus na Springbok gereis. Liebenberg en sy vriendin, Ronelle Kleynhans, het haar in die vroeë oggendure (02H00) in Springbok gaan oplaai.
In die motor het Marizka gebieg dat sy verlief op een van die Krugersdorp-moordenaars is. ‘n Man wat glo drie moorde gepleeg het. “Ek het vir haar gevra of sy graag sy vierde slagoffer wil wees,” sê Liebenberg.
Coetzer was so ontsteld dat sy uit die kar gespring en die veld ingehardloop het. Ronelle het haar agternagesit maar sy het self teruggekeer kar toe.
Sy het later foto’s van oproerige delwers by Kleinzee en Kommagas geneem en onderhoude gevoer.
Maar later op die toer het sy met die hele sak patats vorendag gekom: sy werk glad nie meer vir Huisgenoot nie. Die nuus het Liebenberg se entoesiasme gedemp, maar sy het hom verseker sy het steeds uitstekende kontakte en die storie sou wye publisiteit geniet.
Later, in Kimberley, het Teresa egter vir Liebenberg ‘n boodskap gestuur dat sy en haar man in Mauritius is, maar dat sy hartseer is dat sy nie die storie kan doen nie. Sy het vir Liebenberg naakfoto’s van haarself gestuur.

Sy het ook vir hom vertel sy soek ‘n renfiets van R106 000 en gevra vir ‘n borgskap, al betaal Liebenberg net die paaiemente op die fiets, wat tussen R2 000 en R3 000 per maand sou beloop. Hy het ingestem.
Liebenberg het weer die kwessie van die fiets aan die etenstafel in Kimberley opgehaal omdat hy skuldig gevoel het oor hy nog niks aan die saak gedoen het nie, maar dit het nie reaksie uitgelok by enigeen wat daar gesit het nie.
Ronelle en Marizka het later die aand – dit het baie gereën – op die stoep gesit en gesels. Liebenberg het ingegaan, want hy was nie ingenome met hoe goed die twee vroue oor die weg gekom het nie.
“Met sulke kits-vriendskappe word die man altyd baie gou die gemeenskaplike vyand,” sê hy.
Die volgende oggend het Marizka sy kamer ingestorm. “Jislaaik, ek het nou vir Teresa ‘n ding gewys,” het sy gesê. Klaarblyklik het sy die Rapport-joernalis Kabous Verwoed oorreed om ‘n anonieme e-pos aan Barnard Beekman, Beeld se redakteur, te stuur waarin hy onthul dat Liebenberg vir Coetzee ‘n fiets van R106 000 gekoop het.
“Ek het nie eers daai fiets gekoop nie,” sê Liebenberg.
Ronelle het hom toe ook sommer voor stok gekry oor wat sy genoem het sy “obsessie met Teresa”. Die driehoek-argument het so verwoed geraak dat Liebenberg die twee vroue se tasse uit die kar gegooi en weggery het. Hulle twee is toe huis toe, terwyl hy in Kimberley agtergebly het.
In die moeilikheid
‘n Paar dae later, toe Liebenberg op pad terug was, het Coetzee hom gebel. Sy het afgespreek om hom in Kroonstad te ontmoet.
“Daar het sy vir my vertel sy is in moeilikheid.”
Beekman het haar ingeroep en gewaarsku oor die fiets wat sy kwansuis by Liebenberg gekry het, asook haar vriendskap met hom. Hy het gesê hy gaan met Fredel praat.
“Volgens hom het ek glo vertel ek het vir Teresa ‘n fiets gekoop. Sy is in angs uit Kroonstad uit en het kort daarna vir die eerste keer in ‘n kliniek beland.”
Liebenberg vertel hy het begin agterkom dat Coetzee erg aan angs ly en dat dit haar gesprekke dikteer. Sy het vroeg in hul verhouding “soos ‘n haelgeweer” op die selfoon begin gesels en ontsteld geraak as hy haar nie oombliklik antwoord nie.
Hy het in daardie stadium ‘n skryfskool geborg. Teresa het dit glo haar taak gemaak om al Liebenberg se bedrywighede te begin monitor.
Goed het vir haar by Media24 begin skeefloop. Sy is noukeurig deur Waldimar Pelser, Rapport se redakteur, en Beekman gemonitor. Sy het ‘n waarskuwingsbrief oor haar vriendskap met Liebenberg ontvang waarin sy verbied is om ooit weer kontak met hom te hê en haar bywoning van funksies is beperk. Sy was kantoorgebonde en moes uur vir uur rapporteer oor wat sy doen.
Liebenberg het die bekende vryskutjoernalis Yolanda Barnard-Lemmer genader om ‘n storie oor James Small se dood te doen omdat hy eksklusiewe binne-inligting gehad het. Teresa wou die storie doen en dit het tot konflik gelei.

Toe haar diens by Media24 later beëindig is, het sy gesê dis Louis se skuld en sy het hom daarvoor verkwalik. Liebenberg het aangebied om Media24 aan te vat met sy eie regspan, maar sy het aangedring om ‘n regsgeleerde vriend te gebruik waarvoor hy moes betaal.
Uiteindelik het jaloesie die oorhand oor Teresa begin kry en sy het self erken sy is jaloers op Ronelle en sy wil Ronelle wees.
Goed loop skeef
In Desember 2019 het Liebenberg ‘n ete met Teresa en haar vriendin, Amelia, in die Italian Kitchen in Emperor’s Palace gehad. “Die twee het baie gedrink. Terwyl ons eet, het ek gekla oor jig. Teresa het gesê haar ma het wonderpille vir jig, dit sal my lewe verander.
“Sy het vir my twee wit, langwerpige pille gegee. Ek wou dit nie drink nie en sy het dit omtrent by my mond ingedruk. Halfpad deur die ete het die kos uit die bord uit na my toe begin ‘groei in kleurvolle takke’. Van daar weet ek niks wat gebeur het. Ek het die volgende oggend wakker geword in ‘n hotelkamer.
“Haar boodskappe is van my foon af verwyder, asook ander vroue waarmee ek gepraat het. Sy het later gebel. Ek het gevra oor die pille, en sy het gesê sy het eers by die huis agtergekom sy het die verkeerde pille vir my gegee. Sy weier tot vandag toe om te vertel wat sy my ingegee het of wat verder die vorige aand gebeur het.”
Hy vertel hy het begin besef Teresa tap sy foon. Sy het hom ernstig begin ‘stalk’, sê hy. Hy het probeer om uit die vreemde vriendskap te kom en het haar herhaaldelik op sy foon geblok.
Hy het besluit om ‘n strik vir haar te stel en het met ‘n vrou, ene Karen, ooreengekom om vir hom gewaagde boodskappe te stuur en daarin te maak of hy ‘n seksuele verhouding met haar het. Hy het vooraf vir Ronelle van die plan vertel.
Kort daarna, in die helfte van verlede jaar, het hy sy vriendin weer vir ete ontmoet. “Toe ek badkamer toe gaan, toe verdwyn al die gesprekke weer van my foon af. Dit was die laaste strooi.”
Hy het na Coetzee se huis toe gery. Dit was al redelik skemer. Hy het voor die hek gaan staan en toet.
“Ek het vir haar gesê om alles wat sy van my foon afgelaai het vir my terug te gee. Toe ek wil terugloop, roep Fredel my. Ek het hom net een maal voor dit ontmoet. Hy het verslae gelyk. Ek wou hom nie seermaak nie. Ek het omgedraai. Hy het bly roep. ‘Louis, sê vir my wat aangaan, ek wil nie in ‘n fool’s paradise leef nie.’
“Ek het vir hom gesê: ‘Fredel, sê vir jou vrou om my uit te los. Moenie ‘n fool wees nie. Jou vrou f*k rond. Matthys, Raymond… ek weet nie hoeveel nie.’ Ek was spyt oor my woorde. Ek sal sy verslae gesig nooit vergeet nie.”
Van toe af, sê Liebenberg, was hy en Ronelle in die moeilikheid. Hy beweer Teresa het hom afgepers.
“Ek het twee keer haar Media24-pakket aan haar uitbetaal nadat sy gesê het dat hulle haar niks geld gegee het na haar skeiding nie.”
Hy het daarna weer saam met haar by die Italian Kitchen gekuier. “Dit het sleg gegaan, ons het baie baklei. Sy het Ronelle die heeltyd afgekraak. Sy ‘stalk’ Ronelle die heeltyd. Sy kritiseer haar kleredrag, hoe Ronelle loop, lyk, haar opvoeding, selfs hoe sy ons sitkamer versier het…”

Later het Antonio, eienaar van die restaurant, vir Liebenberg gebel nadat hy reeds vertrek het, en gevra dat hy dringend moet terugkom na die eetplek. Hy het omgedraai. Daar aangekom het Antonio vir hom op die kringtelevisie se opname gewys hoe Teresa geld uit sy beursie neem toe hy badkamer toe is. Volgens Antonio was dit nie die eerste keer nie.
“Sy het toe al in die omgewing van R1,5 miljoen kontant uit my uit gehad. Dit het net erger geword. Sy het net nooit opgehou nie. As sy my sien, was dit geld. ‘Jy het my my werk laat verloor,’ het sy gedurig gesê.
“Ek het ‘n tweede keer voor hulle hek gaan stop. Uiteindelik sy en haar man uitgekom. Hy het voor gestaan, sy agter hom. Ek het Antonio se video vir hom op my foon gewys.
“Fredel was witter as wit. Hy het na haar gedraai en gevra wat gebeur het. Sy het doodstil gebly. Ek het weer vir Fredel gesê om sy vrou van my af weg te hou.”
Volgens Liebenberg het dit ‘n tydjie lank goed gegaan. Maar sy het nou weer vir hom en Ronelle begin bel. Oor geld…
• Die Waarheid het Coetzee Woensdagmiddag en –aand herhaaldelik gebel om haar die geleentheid te gee om haar kant van die saak te stel en verskeie boodskappe gelos. Sy het nie gereageer nie.

Leave a Reply