Skip to main content

“Daar is geen rede waarom Suid-Afrika nie sy terugbetaalverpligtinge sal kan nakom nie,” sê Montfort Mlachila, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), se senior verteenwoordiger vir Suid-Afrika.

Dìt nadat Suid-Afrika ‘n IMF-lening van $4,3 miljard bekom het. In ruil daarvoor moet die land hervorm.

Die land se lening van $4,3 miljard (R70 miljard) van die IMF is betaalbaar oor ‘n tydperk van vyf jaar teen ‘n rentekoers van 1,1%. Die geld is vandeesweek goedgekeur en vorm deel van die regering se planne om R95 miljard by verskillende multilaterale en ontwikkelingsfinansieringsinstellings in te samel om die land se reaksie op Covid-19 gedeeltelik te finansier.

“Soos baie ander IMF-lidlande, het Suid-Afrika ‘n goeie rekord van sy verpligtinge nakom en is daar geen rede waarom hy nie sou betaal nie,” het Mlachila gesê.

Maar as die rand teenoor buitelandse valuta verswak, sal die terugbetaling van die lening duurder word.

Die pandemie het getref toe Suid-Afrika ‘n resessie betree het en die regering gevrees het dat dit nie die gevolge van die koronavirus kon dra nie. Swak ekonomiese groei, korrupsie en ‘n toenemende begrotingstekort het die skuldbaan van die land vererger en die openbare beursie verswak.

Na verwagting sal die bruto nasionale staatskuld in die huidige jaar tot meer as 81% van die bruto binnelandse produk (BBP) styg, terwyl die bruto belastinginkomste na verwagting R304 miljard sal bereik.

Leave a Reply

error: Content is protected !!