Skip to main content

Kyk ‘n bietjie om jou wanneer jy weer in ‘n wagkamer, lughawe-lokaal en selfs in ‘n koffiewinkel of restaurant sit na hoeveel mense besig op hul fone is. Selfs mense wat aan dieselfde tafel sit en kuier, spandeer meer tyd met hul fone as met die persoon wat in lewende lywe die tafel met hulle deel.

Ja, slimfone vorm deesdae deel van ons hele bestaan en realiteit en min van ons kan ‘n lewe daarsonder indink. Die probleem is egter dat ons totaal afhanklik van ons fone geraak het vir kommunikasie en inligting en die aksie om gedurig op jou foon te loer is nie net ‘n uiters irriterende gewoonte nie, maar ook ‘n verslawende een.

Jy kan inderdaad verslaaf wees aan jou selfoon, sê die Amerikaanse sielkundige dr. David Greenfield. Hy is ook die skrywer van die boek Virtual Addiction, en ongelukkig gebeur dié verslawing baie maklik sonder dat jy eens besef jy is verslaaf.

“Ek gebruik my foon vir werk en moet dit die hele tyd monitor,” skerm ‘n vriend toe ek vir hom sê ek vermoed hy is verslaaf aan sy foon omdat hy die hele tyd in ons geselskap met sy foon besig is. (As hy nie verslaaf is nie, is hy wel ongeskik.) Hy spandeer baie meer tyd op sy foon as wat hy besef omdat hy vrees dat hy belangrike nuus sal misloop en sy meisie sê hy loer soms selfs in die middel van die nag na sy foon net om te sien of nuwe boodskappe dalk ingekom het.

Hy was ‘n tydjie gelede skoon angstig en paniekerig toe sy foon vir ‘n dag of twee weg was. Hy slaap met sy foon langs sy bed en sal dit op alle ure van die dag of nag nagaan. Hy gebruik selfs sy foon terwyl hy bestuur.

Volgens dr Henriette Smithy, ‘n kliniese sieklundige van Klerksdorp en die medewerker op die webwerf www.zenzilelif.com is daar verskillende tipes selfoonverslawing:

Virtuele verhoudings  en kuberseks-verslawing.

Hierdie is ‘n baie algemene en baie groot probleem onder baie mense – mense raak verslaaf aan gesels-apps waar hulle aanlyn-verhoudings vorm, ‘n fiktiewe wêreld skep of detail en inligting met die persoon aan die ander kant deel wat hulle nie noodwendig in werklike verhoudings sou deel nie.

Kuberseks en verslawing aan internetpornografie, en sexting, waar naakfoto’s en video’s uitgeruil word, kan ‘n baie negatiewe uitwerking op jou emosionele gesondheid hê.

Volgens Jaco du Plessis, ’n sosiale media-spesialis, gebeur dit toenemend dat mense se aanlyn identiteit vir hulle ’n werklikheid word, m.a.w. hul skep vir hulself ‘n valse werklikheid.

“Jy kan aanlyn voorgee om ’n lewe te leef wat ver van die werklikheid verwyder is. Mense plaas byvoorbeeld op Facebook dat hulle iewers was, maar in werklikheid het hulle net daar verbygery.” Hy beskou dit as ’n donker gat waarin mense al hoe dieper val.

Finansiële verslawings:

Daar is mense met ‘n obsessie met aanlyn dobbel- en speletjies, maar dit kan net so gewoontevormend wees om byvoorbeeld vinnig op jou Luno-app te loer om te sien hoe Bitcoin tans vaar. Aanlyn-aandelebeurs-platvorms wissel die hele tyd en die versoeking is groot om nie kort-kort te loer hoe dit vaar nie. Mense raak verslaaf aan aanlyn-inkopies, en selfs aanlyn veilingswebwerwe.

Internetspeletjie-verslawing:

Jy weet jy speel te veel aanlyn-speletjies wanneer jy soms selfs deurnag voor die rekenaar sit en speel.

Raak genees van jou foon

  • Stel grense vir jouself. Dit is ongeskik om in ‘n geselskap gedurig na jou foon te loer en selfs nog erger as ‘n foon in ‘n fliek of teater of kerkdiens begin lui of ‘n geluid maak as ‘n boodskap inkom. Stel ‘n tyd vas om jou foon na te gaan en hou daarby.
  • Forseer jouself om jou foon met tye af te skakel. Die wêreld sal nie vergaan nie.
  • Los jou foon wanneer jy badkamer toe gaan en maak ‘n reël tuis dat geen fone aan die etenstafel gebruik mag word nie.
  • Blok apps en sosiale media waaraan jy te veel tyd spandeer.

Slimfoonsyfers

Volgens Buzinga, ‘n span professionele app programmeerders (Buzinga.com.au) lyk mense se selfoongewoontes soos volg:

58 % van alle slimfoonverbruikers kyk ten minste een keer ‘n uur op hul foon.

6.8 miljard mense besit slimfone wêreldwyd.

38 % van alle twee-jariges kan slimfone gebruik.

89 % van alle studente gebruik hul slimfone binne 15 minute nadat hulle wakker geword het.

67 % van alle mense kyk vir boodskappe op hul foon sonder dat die foon ‘n geluid gemaak het dat ‘n boodskap ingekom het.

75 % Amerikaners gebruik hul slimfone in die toilet en badkamer.

Amerikaanse volwassenes gebruik hul fone soos volg:

9 % in die middel van seks

35 % in ‘n fliekteater

33 % gedurende ‘n ete-afspraak

32 % tydens ‘n skoolfunksie

55 % terwyl hulle bestuur

19 % in die kerk.

Leave a Reply