Die eiendomsmark is indirek gekoppel aan die wel en wee van die ekonomie, en as ‘n mens ‘n pessimistiese vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie het, moet jy volgens die eiendomsekonoom Erwin Rode, uitvoerende hoof van Rode and Associates, ook dieselfde siening oor eiendom hê.
“Die belangrikste feit om na die toekoms van die SA ekonomie te kyk, is dat dit op sy knieë is, nie net as gevolg van die Covid-19-pandemie nie, maar ook as gevolg van strukturele faktore en die fiskale risiko. Dit beteken daar gaan nie ‘n skielike wonderbaarlike herstel wees nie. Verder word die scenario vererger deur die huidige onrus in dele van die land. ‘n Lang herstelperiode lê voor ons,” het Rode Vrydag aan Fin24 gesê.
Wat residensiële eiendom betref, sê Rode dat pryse deur twee belangrike faktore gedryf word, naamlik die groei in die ekonomie en die rentekoersvlak. In SA lyk die ekonomiese groei al donker.
Wat rentekoerse betref, het inflasie reeds in ander wêrelddele begin toeneem, wat die waarskynlikheid van rentekoersverhogings binne die volgende jaar verhoog. Daarom sal SA volgens Rode ook gedwing word om dieselfde te doen.