Skip to main content

Op 5 Maart vanjaar het die Finansiële Intelligensiediens (FIC) ingevolge die bankwetgewing alle bankrekeninge van die sakeman Louis Liebenberg en sy mede-direkteur Ronelle Kleynhans met byna R100 miljoen in gevries.

Op 18 Maart het die Nasionale Vervolgingsgesag die bevel voortgesit om die geld in bewaring te hou. Op 30 Junie het die Suid Afrikaanse Inkomstediens ‘n Kurator Bonis aangestel tot tyd en wyl alle belastingopgawes ingedien en belastingpligtigheid nagekom is. Na raming soek die belastinggaarder sowat R463 miljoen van Liebenberg aangesien alle fondse wat deur die rekening is as inkomste gereken word. Liebenberg meen dat hy en die maatskappy ongeveer R28 miljoen verskuldig is. Hy het in Maart reeds vir Peter Posthumus van die Ontvanger hieroor gaan spreek en R25 miljoen aangebied.

Kuratorskap is ‘n regsproses waartydens seker gemaak word dat ‘n maatskappy se belastingopgawes op datum is. Volgens Liebenberg word daar lang ure gewerk om seker te maak alle uitstaande belastingopgawes word ingedien om die kuratorskap te laat ophef.

Liebenberg het in ‘n onlangse mediaverklaring gesê dat hierdie maar net deel is van ‘n politieke agenda wat sedert 2004 teen hom gedryf word. Volgens hom kom bogenoemde stappe “direk in opdrag van die geldmag waaragter invloedryke sakemanne soos Christo Wiese sit”.

“Westcoast Resources is wat bekend staan as die ou De Beers in Namakwaland wat deur Transhex die meerderheidsaandeel in Westcoast Recources hou. Wiese en die bekende sakeman Piet Viljoen het die  projek gefinansier.

Liebenberg meen dit grens aan bedrog dat Wiese en Viljoen hulle leningsrekeninge gedelg het net voor hul likwidasie-aansoek en daarna besigheidsredding aangevra het.

“Skielik is West Coast Resources in likwidasie geplaas en baie kontrakteurs in Namakwaland het etlike miljoene verloor. Dit het werkloosheid in Namakwaland vererger. Chris Kimber, wie se sekuriteit in die verlede al daarvan beskuldig is dat hulle van die mense is wat op delwers skiet – dikwels fataal – het toe ‘n ooreenkoms met Transhex gemaak om op West Coast Resources se grond te werk,” sê Liebenberg.

Verlede jaar Oktober het Liebenberg en Kleynhans vir Marco Wentzel, Wiese se skoonseun, en Chris Kimber saam met Transhex se finansiële bestuurder in die Kaap gaan sien waartydens die moontlikheid bespreek is om 175 000 hektaar grond saam met permitte van Westcoast Resources te koop wat tans in besigheidsredding is.

“Ons het dit duidelik gemaak dat ons saam met die Namakaptein, Paul Swartbooi, sowel as Dawid Marcus en die Namadelwers wil werk,” sê Liebenberg. Liebenberg is reeds sedert 2018 besig om vir permitte wat De Beers en Transhex nie werk nie te beding. Hy is ook betrokke by hofsake in die hooggeregshof in Kimberley namens die Namadelwers, asook kaptein Paul Swartbooi, wat arrestasie in die gesig gestaar het. Hy en 12 Namaleiers het reeds verskeie optogtogte na die DMR, Polisie en munisipaliteite gelei wat alombekend is.

Transhex en Christo Wiese is 60% aandeelhouers in Westcoast Resources. Tydens die vergadering het Wentzel daarop aangedring dat Liebenberg en Kleynhans bewys lewer dat hulle die fondse vir die voorgestelde transaksie het.

“Ek het in Oktober verlede jaar bewys gelewer dat daar R80 miljoen in Ronelle se Capitec-rekening was en kort daarna is dieselfde rekening gevries. Daar was R72 miljoen in Tariomix se Absa-rekening. Tydens ‘n hofsaak wat in ons guns beslis is, het regter S.Hlope opdrag gegee dat die geld loskom en dat ons dit na Absa moet skuif. Net daarna is die ABSA-rekening ook gevries,” sê Liebenberg.

Volgens Liebenberg is daar vuil spel om hulle “uit die sisteem te hou” en die situasie is uiters frustrerend.

“Maar daar is lig aan die einde van die tonnel en die maatskappy werk hard om die situasie te beredder. Ons moet alle opgawes finaliseer voor hulle beheer oor ons bates sal laat gaan. Ons werk teen tyd sonder dokumente. Ons sal wen maar dit kan letterlik maande neem,” sê hy.

“Dis mos nou duidelik dat Rupert die regering finansieël ondersteun en daar kan ook ‘n direkte lyn na Wiese getrek word.

“Die een ou maak klaar en dan kom die volgende een vir my. Dit wys net weereens dat jy nie groot besigheid in hierdie land kan doen as jy nie deel is van die ‘kliek’ nie’.

Gerugte doen al lank die ronde dat daar ‘n sterk band tussen Rupert en Ramaphosa is. Vroeër vanjaar is daar wyd in die media bespiegel dat Rupert ‘n ultimatum aan Ramaphosa gestel het om van Ace Magashule, voormalige sekretaris-generaal van die ANC, ontslae te raak, anders sal Rupert se befondsing van die ANC opdroog.

Die ou ANC-vroueliga-strydros Nkosazana Dlamini-Zuma, het ook die party se Nasionale Uitvoerende Komitee geskud deur tydens ‘n NEC-vergadering te vra dat Ramaphosa verduidelik waarom hy nie die party se beginsels van radikale ekonomiese transformasie toepas nie. Rupert is ‘n uitgesproke kritikus van radikale ekonomiese transformasie en het dit in die verlede al as “diefstal” beskryf.

Nie Rupert of die president het op hierdie beweringe gereageer nie.

Liebenberg vertel verder:  “Op Woensdag 14 Julie is ‘n aansoek ingedien deur die Batebeslagleggingseenheid en ek glo dis hier waar hulle in die hek gaan duik, want dit gaan moeilik wees om hulle saak te bewys. Dis een ding om bewaring oor iemand se bates te kry, want daar is net ‘n vermoede nodig dat iemand die bankwet of POCA wetgewing oortree, maar met ‘n batebeslaglegging moet jy bo alle redelike twyfel bewys dat ‘n oortreding gepleeg is en daar gaan dit oor feite. Dis waarom  ek glo ons het ‘n goeie saak,” sê Liebenberg.

Volgens Liebenberg is dit ‘n politieke agenda wat teen gewone burgers, wat toegang tot die minerale rykdom op georganiseerde basis wil bekom, gedryf word.

“Maar hier is my boodskap aan almal: Ek sal nooit ophou baklei nie. Al moet ek hierdie saak tot by die konstitusionele hof neem, sal ek doen wat gedoen moet word. Ek is nie bang vir die staat of enigiemand wat in korrupte verhouding met die staat gewone mense onderdruk nie.

“Geld word tussen ‘n mens se ore gemaak en solank as wat ek kan dink, sal ek geld maak vir my mense. Die sisteem word misbruik en reg en geregtigheid seëvier nie in ons land nie, maar my geveg om namens klein outjies toegang te kry tot die minerale rykdom van die land sodat almal deel daarin kan hê, sal voortgaan tot my dood toe,” sê Liebenberg.

Tariomix verteenwoordig sowat 8 800 vennote as middelman tussen diamantmyners en handelaars, sowel as tussen handelaars.

2 Comments

  • Stoffel Smal says:

    Aangename leeds matriaal. Hou van die reguit denk rigting en die op die manaf beplanning. Dit wil voorkom asof die Waarheid die waarheid propageer en dit is wat “our people” nodig het.

  • Duncan Gill says:

    Dit is tyd die “Kliek” die land los om sy eie pad inteval.Die situasie waar n paar ryk mense almal probeer onderdruk om hulle eie agenda te bewerkstellig is nie meer toelaatbaar.Dit is tyd die gemiddelde burger staan op en se nie meer nie ons gaan julle wegdruif totdat mense soos julle ons nie meer aantas met julle strond.

Leave a Reply

error: Content is protected !!