Skip to main content

Verskeie lesers van Die Waarheid meen dat die regering se rakleeftyd iets van die verlede is.
Na die onlangse chaos wat soos ‘n wegholveldbrand versprei het, is ons ekonomie erg gestremd. Daar is nie ‘n ander beskrywing daarvoor na die vernietiging van infrastruktuur, plundering en brandstigting nie.
Kyk mens nou na die toue mense wat ure gaan wag om basiese voedsel te koop in areas waar supermarket totaal en al vernietig was, dan wonder ek wat die dag van more gaan inhou.
Al gooi ander lande ‘jammerkry-geld’ in die land se geplunderde koffers, gaan dit nie die etniese oorloë tussen faksies in ons land net laat verdwyn nie. Wat keer die tsotsi’s om nie weer alles wat van voor af opgebou word net weer te vernietig nie? Net mooi niks!
Gaan die situasie tans, asook die duidelike bewyse dat die regering nie met geld in die regeringbank
vertrou kan word nie, die laaste strooi wees wat die Suid-Afrika ANC kameel se rug gaan breek?
Ons mense raak onrustig. En onrustige mense kan gevaarlik word.
“Ons was ‘n voorspoedige land, en die ANC het dit opgedonder. Alles wat voorheen gewerk het, is nou tot niet. Crime regeer vanaf die hoed van ons land, tot by die voete. Die Suid-Afrika wat jonk en sterk was, is nou dood. Lank lewe eergister,” sê 78-jarige weduwee, Sarah Tau, waar sy voor haar modderhut op ‘n ongelyke trap sit, “want ons het nou fokkol oor nie.
“Waar was die ANC-leiers tydens al die gemors? Hulle het in hulle huise weggekruip en het net geworry oor hulle self. Maar kyk, as die elections nader kom, dan kom kruip hulle weer gat met mooi stories en vals beloftes. Hierdie keer gaan minder mense daardie leë woorde glo. Baie minder…”
Sy is maar net een van vele wat in sak en as sit. Die les vir ‘n naïewe jong demokrasie waarvan die swak ekonomiese struktuur en ruggraatlose, venynige politici ‘n eiland van welvaart vir hulleself onderhou in ‘n wemelende see van desperate, werklose mense gaan duur te staan kom.
En die ANC en hul kaders besef dit al te goed. Dit is nou te laat om te erken dat hulle ‘meer moes doen om korrupsie te voorkom’. Dalk is ‘n oplossing om al die korrupte amptenare te laat opsluit en op al hul bates beslag te lê, maar wie het die kallas om dit uit te voer? En het ons genoeg tronke vir al die skuldiges?
Mense het genoeg gehad. En die ANC-matador gaan moet bontstaan om die woedende bul op ‘n afstand te hou.
Hierdie bloedbad is nog lank nie verby nie…

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!