Slegs ‘n maand nadat Carel Sebastiaan sy eerste enkelsnit, Kol op die maan, die lig laat sien het, is hy weer terug op die radiospeellys met ‘n donker rock-enkelsnit, Vaderland, wat die onheilspellende atmosfeer van die grendeltydperk goed vasvang,
“Ek het ‘n voorliefde vir rock-musiek en ek dink my musiek en lirieke word in ‘n mate beïnvloed deur Dire Straits en Pink Floyd,” vertel Callie. “Die idee was nie oorspronklik om ‘n donker liedjie te skep nie, maar soms draai ‘n liedjie anders uit as wat ‘n mens beplan het.”
Callie het Vaderland sowat drie jaar gelede – tydens sy pa se stryd met kanker – geskryf. Dit was vir hom ‘n donker tydperk waar hy nie net ‘n egskeiding moes trotseer nie, maar ook sy pa se diagnose en daaropvolgende afsterwe.
Die pyn het, uit die aard van die saak, ook neerslag in sy lirieke gevind. “Ek het gesukkel om die dinge wat aan die gebeur was te verstaan.
“Ek het begin wonder of die son wel die volgende dag sou skyn… Die vrae het ook aanleiding gegee tot diep gedagtes oor ons pragtige land en die negatiewe aspekte wat besig was, en nogsteeds is, om alles in duie te laat stort.”
Vaderland getuig ook van ‘n diep liefdesverhouding met Suid-Afrika. “Ek is die elfde generasie wat in die land woon – net soos my pa, my grootouers en ook agtergrootouers, wil ek ook aan my land, my Vaderland, bou en nie afbreek nie.”
Vaderland is ‘n patriotiese liedjie wat nie net om liefde vir mekaar pleit nie, maar ook om rassevrede. “Aan die einde van die dag wil almal net graag ‘n toekoms vir hulle self en hulle kinders bou.”
Vaderland is rou en opreg. ‘n Liedjie wat veral by luisteraars wat van diep lirieke hou byval sal vind.