Skip to main content

Meneer Ramaphosa
Ja, ek sê ‘meneer’, want jy tree nie soos ‘n ware president op nie…
Ek sit nou al vir dae lank en kyk na video’s wat deur sosiale media versprei word, en ek kan selfs die roet ruik wanneer mense voor hul uitgebrande plekke staan en probeer beskryf hoe hulle voel.
My hart pyn fisies wanneer ek hul ellende aanskou.
Wat weet jy? Wat vóél jy? Daar waar jy in jou fênsie huis sit met veiligheidspolisie wat jou oppas. Jou koskaste vol. Jou bed sag. En jou vertrekke warm.
Lag jy agter jou hand oor mense wat soos miere op warm sand rondskarrel om hul lewensonderhoudende eindomme en eie lewens te beskerm?
Ek kon nog nooit in een televisie-onderhoud ware emosie op jou gesig sien nie. Behalwe jou lag.
Selfvoldaan. So asof jy iets weet wat niemand anders weet nie. Is dit waarvan Jacob Zuma praat?
Het jy al enige van die plekke wat geplunder is, besoek? En wie gaan die knaters hê om die diewe aan te keer? Wie gaan die mense vergoed wat nie onlusdekking het nie? Wie?
Gaan enigiemand aan die pen ry vir die biljoene der biljoene rande se skade? Daar is immers hordes video’s en foto’s om gesigte van baie van die diewe en plunderaars uit te wys. Gaan al die wat voertuie bestuur het se karre gekonfiskeer word omdat hulle onwettig gebaat het uit winkels se ellende? Of is dit maar net oukei?
Ek vra die vrae wat net in ander mense se koppe maal of onder mekaar gevra word, want ek vermoed ek is meer in voeling met die gewone mense van hierdie land. Nie die ‘gewone mense’ wat die hardste lawaai nie – dit is nie die tipiese Suid-Afrikaner wat snags wakker rondrol en wonder waar hulle kos gaan kry om hulle kinders te voer nie. Dit is nie die mense wat hulle oor skoolgeld en huur en die brandstofprys bekommer nie.
Sê vir ons: wie gaan nou vir die mense wat in die geplunderde winkels gewerk het sorg noudat hulle tien teen een permanent werkloos gaan wees? Ek skat 99% van hulle is swart mense.
Wie gaan die strate skoonmaak? Die plunderaars? Ek dink nie so nie.
Wat ek interessant gevind het, is dat alle winkels kaal gestroop is van muur tot muur, maar Exclusive Books was onaangeraak. Dit sê baie…

Groete en ek hoop jy kry gou ‘n nuwe iPad

Die gewone, wetsgehoorsame Suid-Afrikaner

Leave a Reply