Internasionale toeriste se beplanning om vir die spits-vakansieseisoen na Suid-Afrika te kom is doodgebore sedert die onluste hier begin het.
Wêreldwye berigte oor onluste in SA sal beslis ‘n groot impak hê op enige reisbesluite wat tans deur internasionale toeriste geneem word.
Internasionale toerisme is ‘n kontantkoei vir die SA toerismebedryf. Dit word alreeds ernstig beïnvloed deur die patetiese inwerkingstelling van koronavirus-inentings in SA.
Plundery en onluste kan ‘n blywende impak op die beeld van Suid-Afrika hê. Dit kan beslis die laaste spyker wees in die kis van ons toerisme-sektor wat reeds sukkel, sê verteenwoordigers van die bedryf.
Wie sal na só ‘n onstabiele, lewensgevaarlike plek wil reis?
Glenton De Kock, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir die konferensiebedryf (SAACI), sê: “Selfs die blote spekulasie van gebeure soos burgerlike onrus kan toeriste laat nadink oor hul besluit om ‘n bestemming te besoek.”
De Kock is ook bekommerd oor die moontlike impak op binnelandse reise wat tot dusver as ‘n potensiële ligpunt in ‘n andersins gehawende bedryf beskou word.
“Ons kan ook weerstand sien binne die plaaslike mark om te reis. Met die huidige beperkinge wat ontspanningsreis in en buite Gauteng verbied, tesame met die geweld wat ons aanskou, kan ons verdere vertragings in die herstel vir die bedryf sien,” het De Kock gesê.
Volgens Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismebesigheidsraad van SA (TBCSA), wat die private sektor verteenwoordig, is die huidige omstandighede ‘n “dubbele gevaar” vir die toerismebedryf. Aan die een kant is daar die negatiewe impak van internasionale reisbeperkings as gevolg van die pandemie, en aan die ander kant sal daar nou kommer bestaan weens die geweld en plundering.
“Mense neem nou besluite of hulle in die volgende drie of vier maande gaan reis, veral internasionale toeriste. Baie van hulle sal nou heroorweeg of hulle na SA moet reis of nie. Ons is baie bekommerd, want stabiliteit is broodnodig om toerisme te ondersteun,” het Tshivhengwa gesê.