Die gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) het nóg sterftes tydens die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng bevestig.
Drie mense in KwaZulu-Natal en ses mense in Gauteng het weens hierdie onluste gesterf. Teen 20:00 Maandagaand is daar 166 misdadigers in KwaZulu-Natal en 323 misdadigers in Gauteng gearresteer. Vier polisiebeamptes is ook tydens hierdie onluste beseer.
Op sommige plekke het die plundery deur die nag voortgeduur.
Drankwinkels is ook tydens hierdie onluste geteiken weens die verbod op alkohol wat vanaf einde Junie ingestel is op vlak 4-inperking. Weens die plunder van drankwinkel, sal baie van hierdie winkels egter nie na die verbod kan oopmaak nie, omdat hul geen inkomste verdien het nie en nog ‘n groter verlies gelei het nadat hulle geplunder is.
Volgens VonkMedia is verskeie plunderaars deur die owerhede gearresteer nadat die boosdoeners ‘n winkelsentrum in Daveyton, Gauteng, geplunder het.
Een van die oortreders wat gearresteer is, is ‘n swanger vrou. Die vrou het beweer dat sy na die winkelsentrum gegaan het om te kyk wat daar aangaan, maar die owerhede het haar gevang waar sy in een van die winkels besig was om te steel.
Twee mans in ‘n Ford voertuig is gevang terwyl hulle gesteelde goedere in die voertuig gelaai het. Die twee is vasgetrek terwyl hulle probeer vlug het. Die owerhede het die voertuig deursoek en beslag gelê op ‘n speelgoedgeweer, asook die voertuig.
Die plundery in die winkelsentum duur steeds voort ten spyte daarvan dat die owerhede die plunderaars probeer verjaag. Werkers by die sentrum is in skok nadat hulle gesien het wat oor is van die winkels en is nou in vrees dat hulle hul werk gaan verloor weens die skade.