Skip to main content

Is jy een van daardie mense wat elke dag lus is vir ‘n stukkie sjokolade of iets soet? Is dit moontlik om aan sjokolade verslaaf te wees en indien wel, kan jy onttrekkingsimptome kry as jy nie jou “dwelm” kry nie?

Volgens die bekende Amerikaanse voedingskundige wat spesialiseer in natuurlike gesondheid, Dr Eric Berg, is die antwoord ‘n onomwonde JA. (Volg Dr Berg op YouTube).

Sjokolade het beslis verslawende eienskappe en een van die redes is omdat die brein serotonien (die gelukshormoon) vrystel wat jou gemoed lig wanneer jy suiker of sjokolade eet.

Volgens Berg is daar altesaam 380 verskillende chemikalië in sjokolade, en een van die chemikalië is fenielalanien, ‘n boublok van dopamien, wat ook daarvoor verantwoordelik is dat jy goed en gelukkig voel. Fenielalanien stimuleer ook endorfiene in jou brein.

Sjokolade is dus ‘n natuurlike antidepressant en bevat verskeie verbindings wat die brein se goedvoel-afdeling stimuleer.

Ander chemikalië wat sjokolade bevat is teobromien wat dieselfde effek het as kaffiëne – dit laat jou wakker en gefokus voel (maar kan jou ongelukkig ook saans wakker laat bly.)

Een van die tekens van sjokoladeverslawing is as jy élke dag intens lus is vir sjokolade en boonop is een of twee blokkies net nie meer genoeg nie. Volgens die kenners neem dit sowat drie weke om ‘n verslawing te oorkom.

Daar is deesdae wonderlike apps (selfoontoepassings) beskikbaar wat jou bystaan om enige verslawing te oorkom – van alkoholisme, dwelms tot suikerverslawing. Die app “I am Sober” help jou byvoorbeeld om elke dag ‘n belofte te maak en jou te motiveer waarom jy moet vasbyt. Dit hou dagboek van jou “oorwinningsdae”.

Hou matigheid voor oë

Selfs al is jy nie verslaaf aan sjokolade nie, moet mens versigtig wees om te veel daarvan te eet. Want ja, dit maak vet!

Kies donker sjokolade en vermy melksjokolades met vetterige, soet vulsels. Melksjokolade bevat baie versadigde vet, wat jou cholesterolvlakke verhoog en dit het ook ‘n hoë kilojoule-inhoud.

Volgens Dr Berg is dit baie beter om eerder suikervrye sjokolade te eet (soos Canderel). Kyk uit vir plaasvervangers vir suiker soos Xylitol, sorbitol, mannitol en stevia.

 

Interessante Sjokoladefeite:

Jy het sowat 100 kakaoboom-bone nodig om 100 gram sjokolade te maak.

Sowat 70% van alle kakaobone word in Afrika gekweek, al is die boom nie inheems aan dié vasteland nie. Die kakaoboom kom oorspronklik uit Suid- en Sentraal-Amerika.

Die smelpunt van kakaobotter is 35,5 grade celcius en daarom smelt dit in jou mond, want dit is net laer as liggaamstemperatuur.

Sjokolade is skadelik vir honde omdat dit die stimulant teobromien bevat wat die sentrale senuweestelsel en hartspiere van honde kan vergiftig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!