DIRK LOTRIET
Jare gelede het ek saam met die oulikste meisie op aarde deur die Karoo gery. In ‘n stadium het ek stadiger gery en ‘n kolonie eekhorings vir haar langs die pad uitgewys.
“Eekhorings?” het sy gevra. “Eekhorings is nie so oulik soos mense dink nie. A squirrel is just a rat in a cute outfit.”
Dit was vir my ‘n verskriklik oulike opmerking. Nie meer nie. Dit begin vir my al hoe meer lyk of haar woorde profeties was. Ek kry die idee Squirrel Ramaphosa is niks meer is as ‘n rot in ‘n duur pak nie.
Die feit dat oudpresident Jacob Zuma verlede week toegesluit is, is natuurlik ‘n oorwinning – weliswaar een wat hopeloos te laat kom – vir die beginsel van gelykheid voor die reg.
En dit gee so ‘n bietjie meer gewig aan Ramaphosa se beloftes dat korrupsie vasgevat gaan word.
Zuma sit agter tralies en sy korrupsieverhoor het nog nie eers behoorlik begin nie. Ace is geskors hangende sy eie korrupsieverhoor. Carl Niehaus is geskors. Robert McBride ook, hangende ondersoeke na om. En Bheki Cele se sake word blykbaar vir bedrog van R1 miljard bekyk.
Maar beteken dit Ramaphosa begin erns maak van korrupsie, of beteken dit hy is net besig om sy “stryd teen korrupsie” as gerieflike stuk gereedskap te gebruik om van sy politieke opponente ontslae te raak?
Ramaphosa het vroeër vanjaar as ANC-president voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig. Hy moes voor Zondo vrae beantwoord oor sy beweerde betrokkenheid by staatskaping as Zuma se adjunk-president. Hoeveel het hy geweet en hoe groot is sy aanspreeklikheid vir die hele gemors waarin die land sit, wou ons almal weet.
Ongelukkig het hy nie veel gesê nie. Hy het die gebreke van die ANC halfhartig erken, maar was baie versigtig om sy party en homself nie te inkrimineer nie. En, soos ons nou al gewoond is, om nie aanspreeklikheid vir enigiets te aanvaar nie.
“Foute is gemaak,” het hy toegegee. Ons ken die “foute is gemaak”-tema al baie goed. Nixon, Clinton en Reagan het dit almal by geleentheid gebruik. En ook Ramaphosa self, toe hy dit verlede jaar tydens die harde inperking aangebied het as verduideliking vir hoekom R500 miljard in ANC-amptenare se sakke verdwyn het, hoekom daar verregaande Covid-regulasies ingestel is en hoekom die weermag en polisie goeie burgers doodmaak.
Maar eintlik, het hy verduidelik, is die ANC ‘n party wat nie omkoopgeld willens en wetens sal vat nie. Dis ‘n party wat nog altyd teen korrupsie gekant is.
Dis natuurlik enorme snert, en ons almal weet dit.
Ramaphosa sal uiteraard die skuld vir alle korrupsie op die Zuma-kamp wil pak, en dis reg dat almal wat betrokke was by die staatskapinggemors aanspreeklik gehou word. Maar ons land is dieper in die moeilikheid as net staatskaping.
Dit vat net ‘n greintjie verstand om te besef dat goed nie so onkorrup in die regerende party kan wees as Squirrel se vriende se hande net so so smerig soos die Zuma-mense is nie. Daar is bitter, bitter min mense in gesagsposisies in die ANC wat nie vrot van die korrupsie is nie.
Onder sy vriende waarvan hy werk moet maak, is daar Zizi Kodwa en Zweli Mkhize. En oudpresident Gwede Mantashe.
Die probleem is dat vriende waarop hy toeslaan, dalk heil aan die bors van Vader Jacob gaan soek. En Ramaphosa kan dit nie bekostig nie. Hy het die NEC se goedkeuring nodig om oor twee jaar as president herkies te word, en in 2017 het hy dit nie loshande gekry nie.
Die IRR raam dat 41 van die 80 verkose lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NEC) van die ANC geïmpliseer word in ernstige korrupsie. Net agt lede van die NEC – een uit tien – is sonder twyfel skoon.
Waar die debakel egter interessant word, is dat die 41 wat geïmpliseer word, nie slegs uit die Zuma-kamp kom nie. Hulle kan helfte-helfte tussen die Zuma- en Ramaphosa-groepe verdeel word.
Hierdie ongemaklike feit verduidelik waarom daar soveel klem in die ANC op interne partyprosesse geplaas word as korrupsie getakel word.
ANC-lede wat in korrupsie geïmpliseer word, hoef bloot voor die party se integriteitskommissie te verskyn. Wat nie naastenby so ernstig soos kriminele klagtes is nie. Die ampsdraer moet verduidelik, maar die integriteitskommissie het nie die magte om enigiets behoorlik te ondersoek nie. Die party se opsystaan-resolusie geld ook nie by interne prosesse nie. En hulle aanbevelings is nie bindend nie.
Dis maklik om Zuma en die Guptas vir alles te blameer, maar dis nie net hulle nie.
Die sleutel tot al die korrupsieprobleme lê by die wapentransaksie van die negentigs.
Die party se hande was vuil nog voordat Zuma tot president verkies is. Dis immers die party wat hom president gemaak het, wel wetende dat hy onopgelosde korrupsiebewerings oor sy kop het.
Ramaphosa probeer hard om die rol te speel van die nuwe besem wat skoon vee. Die feit is dat hy g’n nuwe besem is nie. Hy is in 1992 tot sekretaris-generaal van die ANC verkies – een van die magtigste posisies in die party.
Hy het wel in Januarie 1997 uit die politiek getree en die wapentransaksie-ooreenkomste is eers in 1999 geteken, maar daar is al in 1996 met Europese wapenverskaffers begin onderhandel.
Die wapenbedryf is die vuilste, mees korrupte bedryf in die wêreld, en ek twyfel vir geen oomblik dat die ANC-outjies wat met die Britte, Franse, Duitsers en Swede onderhandel het, heeltemal uit hul diepte was nie. Maar die ANC se diepgewortelde kultuur van korrupsie het dit vir hulle net te maklik gemaak.
As Ramaphosa enige erns het om korrupsie uit die weg te ruim, sal hy hier moet begin. En dis ‘n nes, want al die “demokratiese” presidente van Suid-Afrika is onder verdenking.
Britse en Duitse ondersoekers vermoed dat meer as ‘n miljard rand se omkoopgeld betrokke is. Prominente ANC-lede, insluitende Tony Yengeni, Zuma, oudpresient Thabo Mbeki, Schabir Shaik ken sy broer, Chippy Shaik, se name word genoem.
Elke president sedert 1994 word betrek – nie net Zuma nie. Selfs Nelson Mandela en Thabo Mbeki is in omstredenheid gehul:
- Patricia de Lille het in die parlement beweer sy het bewyse dat die Duitse oorlogskipvervaardiger Thyssen-Krupp in 1999 R500 000 inbetaal het in elk van die Nelson Mandela Kinderfonds, Die Gemeenskapsontwikkelingstigting en ‘n liefdadigheid wat gekoppel word aan Graca Machel, Mandela se vrou.
- ‘n Sunday Times-artikel het in 2008 beweer Mbeki het R30 miljoen by die skeepsbouer MAN Ferrostaal gekry. Hy het glo R2 miljoen vir Zuma gegee en die res vir die ANC.
- Iemand wat getender het vir die lekker vet kontrak om noodkrag te voorsien, sweer hoog en laag die tender is gekook om dit vir kontakte van Gwede Mantashe te gee.
Die groot bohaai rondom Ramaphosa self het te make met sy termyn as adjunkpresident van 2014 tot met sy verkiesing as president in 2017.
As Zuma se adjunk-president, hoeveel het hy van Zuma se sake met die Guptas geweet en hoe dikwels het hy net weggekyk? Ramaphosa moet weer as president van die land voor Zondo getuig. Ons hoop om hier meer duidelikheid te kry.
Ons hoop ook om meer te wete te kom oor die R500 000 wat deur Gavin Watson, voormalige hoof van Africa Global Operations (voorheen die tot-die-been-toe vrot Bosasa) in Ramaphosa se seun, Andile, se rekening inbetaal is. Die konstitusionele hof het wel beslis dat daardie verkiesingsdonasie buite die openbare beskermer se jurisdiksie val, maar daardie skenking word nie betwyfel nie.
Ons verdien om te weet wat agter kader-ontplooiing sit. Deur rasbeheptheid is bekwame mense uit minderheidsgroepe dikwels vir prominente poste oor die hoof gesien en onbekwame mense van die regte ras en politieke party is eerder aangestel. Die beleid het die staatsdiens en elke staatsbeheerde entiteit tot nuttelose stilstand laat kraak. Mnr Ramaphosa, as voormalige voorsitter van die ANC se ontplooiingskomitee, kan die antwoorde gee.
Natuurlik is daar mense wat ongelukkig is oor Ramaphosa se effe-effe optrede teen korrupsie tot dusver. Ace Magashule en Zuma, byvoorbeeld, kraai nie van die lag oor waar hulle hul bevind nie.
Maar interessant genoeg kry Ramaphosa se skoonvee nie die skuld vir enigiets nie. Die Zuma-faksie bekommer hulle oor wit monopolie-kapitaal, die CIA, clever blacks, die blankes… maar Ramaphosa gee hulle nie slapelose nagte nie.
As Ramaphosa enigsins die indruk wil skep dat hy die belange van die land op die hart dra, gaan hy ‘n nagmerrie vir korrupte amptenare – vyand sowel as vriend – moet word. En hy gaan moet bewys dat sy eie hande skoon is.
Die probleem is egter dat die ANC nie gebore in staat is om ‘n moderne land te bestuur nie. Hel, hulle kan nie eers ‘n munisipaliteit bestuur nie.
Die publiek wat nog bevoorreg is om ‘n paar sent te hê, sorg vir hulle eie skole, want die ANC-regering kan dit nie gee nie. Hulle sorg vir hulle eie veiligheid, gesondheidsorg… Die publiek maak self slaggate in paaie reg – hoekom kan die ANC-kaders dit nie doen nie? Hoekom kan hulle nie putte grawe nie? Soos Gift of the Givers demonstreer: Dis nie so moeilik nie.
As sosialistiese burokrasie is hulle behep met die mag wat hulle het, en gaan uit hulle pad om nog te kry – kyk maar net na die voorgestelde onteieningswet, die gesondheidsversekeringsplan, die wapenwet, minerale regte, mynbou…
Ramaphosa se uitdagings is veel meer as net die Zuma-nalatenskap en hierdie week se opstande. Dis dat sy eie party van kop tot toon vrot van die korrupsie is.
Hy gaan daardie “lang spel” waarvan wysneuse so graag praat maar vir eers moet bêre (daar’s baie plek in die staatskas, want die ding is leeg). Daar is nie meer tyd vir ledig rondsit en ‘n gawe omie wees nie. Dis nou tyd vir optrede.
Wat gaan sy nalatenskap wees? Gaan die geskiedenis hom etiketteer as die man wat Suid-Afrika gered het? Soos sake nou staan, is dit bitter onwaarskynlik. Die kans is baie goed dat hy eerder onthou gaan word as net nog ‘n rot in ‘n mooi pak.