Skip to main content

Gister se aankondiging waarin president Cyril Ramaphosa bekend gemaak het dat restaurante en eetplekke kan open onder streng gesondheidsprotokolle, is ‘n klap in die gesig van dié bedryf aangesien daar steeds ‘n 14-dae verbod op die verskaffing van alkohol is.

Die drankverbod, wat sedert verlede jaar reeds aan en af toegepas is, word nou ‘n groot bron van twis onder verbruikers, produsente en handelaars.

Die ‘toegewing’ deur die poppemeesters is ‘n bietjie te min te laat vir ons wat moet dans, meneer die president. Nie almal het vet bankrekeninge waarop hulle kan terugval nie, en ‘n uur se werk meer of minder gedurende inperkings kan die verskil wees tussen uitgawes dek of aansoeke om likwidasie in te dien. Dis nou te sê as daar bates oor is wat gelikwideer kan word.

Kan ‘n liefhebber van vinnige motors, oesjaarwyn, forelhengel en wildboerdery, – en een van die rykste politici in die land met ‘n netto waarde van ongeveer $450 miljoen – die man op straat se dilemma begryp? Ja, ons praat nou van die president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa.

Alkoholverkope maak ‘n groot deel uit van alle eetplekke se omset, ongeag of dit in ‘n township of in ‘n luukse woonarea is. Boonop verwag die meeste restaurantgangers nie net kos nie – hulle gaan na ‘n restaurant om die voller uitgaan-ervaring te kry, wat wyn of ‘n ander drankie insluit.

Volgens die nuwe reëls mag eetplekke ook nie meer as 50 klante op een slag bedien nie, of in die geval van kleiner eetplekke mag die lokale nie meer as 50% gevul wees nie. Suid-Afrika het 34 500 gelisensieërde taverne-eienaars, gesamentlik met meer as 200 000 afhanklikes, 10 000 shebeen-permithouers, 2 700 onafhanklike drankwinkeleienaars wat 25 000 werknemers met ongeveer 70 000 afhanklikes in diens het en ongeveer 7 000 restauranteienaars met ongeveer 250 000 werknemers, afhanklikes uitgesluit. Dus ‘n totaal van ver oor ‘n halfmiljoen werknemers, vanaf kelners tot skoonmakers, wat deur die pandemie geraak word.

Die alkoholindustrie het reeds in Februarie 2021 ‘n geskatte verlies van R36 miljard aan inkomste gehad, en 200 000 werksgeleenthede was toe al in gevaar weens die drankverbod. Dink net: Loftus kan vier keer gevul word met hierdie hoeveelheid mense.

Beer Association of South Africa, (BASA) het kort na gisteraand se toespraak ‘n verklaring uitgereik waarin hulle noem dat daar steeds geen inligting van die regering se kant verskaf is om te bewys dat daar ‘n verband is tussen alkoholverbruik en ‘n toename in hospitaalopnames nie. BASA sal ‘n dringende aansoek aan die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) indien om data en bewyse te bekom wat bygedra het tot die besluit om die drankverbod te verleng.

‘Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting 2 van 2000 beoog om uitvoering te gee aan die grondwetlike reg op toegang tot enige inligting wat die Staat besit en enige inligting wat deur ‘n ander persoon bewaar word en wat nodig is vir die uitoefening of beskerming van enige regte; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee verband hou.’

Van bekroonde top restaurante tot plaaslike eetplekkies is deur die Covid-19-pandemie en gedwonge regulasies wat deur ons ANC regering in plek gesit is in Suid-Afrika, verwoes. Gedwonge aandklokreëls, die alkoholverbod en reisbeperkings het baie ondernemings in die gasvryheidsbedryf laat sluit. Hierdie plekke het voor Covid-19 meer as 330 000 mense in diens gehad. (Meer as ses Loftus stadions vol werknemers.)

Na beraming het honderde restaurante net in Januarie 2021 gesluit. Onder hulle tel onafhanklike restaurante, kitskos-winkels, koffiewinkels, informele eetplekke, kantiens by kantore, mobiele restaurante en verskeie franchise-groepe.

Diegene wat oorleef het, moes vindingryke maniere vind om die storm te weerstaan. Van die eetplekke het hul handelsmerke verander, ander het kos spotgoedkoop geadverteer, en sommiges het selfs tuisaflewerings begin doen. Daar is heelwat eetplekke wat tans hiberneer.

Hier is ‘n paar van SA se gewildste restaurante wat gesluit is:

In Desember 2020 het twee gewilde restaurante in die V& A Waterfront hul deure permanent gesluit. Na jare in die besigheid het Balducci’s en die bekroonde bief- en seekosrestaurant Belthazar, een van die Waterfront se oudste huurders, ook gevou.

Farro’s in Illovo in Johannesburg het ‘n soortgelyke lot gehad.

‘n Seepunt-gunsteling La Mouette is tans in die mark.

Die Kombuis in Kaapstad, waar die voormalige Amerikaanse presidentsvrou Michelle Obama in 2013 ‘n middagete genuttig het, het verlede jaar sy deure permanent gesluit. Dit is meer as ‘n decade gelede begin.

Ander slagoffers sluit in:

Die gewilde Melville-restaurant Pablo Eggs Go Bar.

Die Myoga-restaurant, wat in 2007 op die terrein van The Vineyard-hotel in Kaapstad geopen het.

Die Kalkbaai-teater en -restaurant.

Die Restaurant at Waterkloof, te Somerset Wes.

Die Kaapstadse middestad se Brownies en Downies, ‘n baanbrekende koffiewinkel waar intellektueel

gestremdes gewerk het.

La Bottega, in Woodstock, is ook te koop.

SMAK Delicatessen and Eatery, Kaapstadse middestad.

Die Tolhuis Bistro, geleë op die kronkelende Mitchell’s Pass pad na Ceres.

Two and Sixpence Tavern, Simonstad, het na 21 jaar gesneuwel.

Vurk, in Franschhoek

Farro, Illovo, het in November verlede jaar gesluit.

Calexico (44) in Stanleyweg, Milpark.

The Countess in Melville.

La Petite Maison, Melville.

Urbanologi in Johannesburgse middestad.

33 High Street Restaurant, Kempton Park.

Epikuur deur sjef Coco in Sandton.

Coobs en Douglas + Hale, Parktown-Noord.

Café 1999, in Berea, Durban, het na 21 jaar hul deure gesluit en die restaurantgedeelte het saamgesmelt met Unity Bar.

Two Olives, Richmond Hill, Port Elizabeth.

Tilting Heads Taco Cafe en Margarita Bar, Richmond Hill, Port Elizabeth.

Voordat huidige eetplekke en al hul staf, van skottelgoedwassers tot bestuur, dieselfde paadjie loop, doen ons ‘n beroep op al ons lesers om asseblief die eetplekke in jou omgewing te ondersteun, al doen jy dit een maal per week en al koop jy slegs ‘n klein maaltyd daar.

Die Waarheid se mening is dat mense moeg raak vir dieselfde snare wat op die ANC se gebreekte kitaar gespeel word, en dit ten koste van gewone mense. Ons!

Die Waarheid se mening is ook dat gewone mense een van die dae uit die ANC-gemaakte denkbeeldige tronkselle gaan ontsnap, en dan, meneer die president, gaan dit ‘n interessante gedoente afgee…

Leave a Reply