Skip to main content

ISAAC CLOETE

Nog ‘n swart week het vir ‘n paar plaaslike delwers aangebreek.

Die week het die struggle ‘n hoogtepunt bereik toe 37 “kleinskaalmyners” lelik met die gereg gebots het. Baie van hulle, wat hier groen weivelde kom soek, is van die Oos-Kaap en bly op Port Nolloth, volgens plaaslike inwoners.

Die sogenaamde diggers struggle al vir jare lank om te oorleef van die “oorskiet” blink klippies van veral die uitgewerkte diamantmyne van De Beers en Transhex.

Areas wat die polisie geteiken het was Port Nolloth, Kleinzee, Oubeep, Bontekoe en Nuttabooi, volgens die polisiewoordvoerder, kol Mashay Gamieldien.

Tydens die operasies hier is 37 verdagtes  gearresteer vir onwettige mynbou-aktiwiteite. Vyf voertuie was gekonfiskeer tydens die multi-dissiplinêre operasies.

Op 3 Augustus moet 28 verdagtes in die Port Nolloth hof verskyn na waarskuwingsbevele.

Woensdag het die taakspan die Bontekoe-hostel, naby Komaggas, geteiken. Hier het hulle vyf mans gevang wat sonder wettige dokumentasie was.

Die operasies was gelei deur die waarnemende provinsiale kommissaris van polisie, brig Hennie van Rensburg. Verskeie eenhede van Springbok, Upington en Kuruman het aan die operasies deelgeneem.

Die suksesse van die wetstoepassers was egter ‘n pynlike nederlaag vir die plaaslike myners en gemeenskappe. Baie het die polisie gekritiseer aangesien hulle glo net op “sagte teikens” toeslaan.

Kapt Swartbooi van die Nama’s het verwytend vertel dat dit ‘n swart dag was vir kleinskaalse myners. Verder glo hy dat die polisie die arm mense onnodig viktimiseer en verarm. “Die polisie moet eerder fokus op harde misdaad soos die onlangse koelbloedige skietdood van ‘n jong delwer aan die hand van ‘n sekuriteitsmaatskappy. Ook moet hulle fokus op geweldadige roof en dwelmhandel.”

Hy het verder versoek dat die staat die delwers moet bystaan by wyse van die uitreik van mynboupermitte. Volgens hom het die situasie in Namakwaland nou onuithoubaar geword want die gemeenskappe is werkloos.

“Die polisie behoort  hulle te skaam. Hulle moet diegene gaan arresteer wat R500bilj gesteel het.”

Intussen het die ander nege ongedokumenteerde verdagtes (agt mans en ‘n vrou) reeds in die Springbokhof verskyn. Hulle moet weer vandag in die hof verskyn.

Leave a Reply

error: Content is protected !!