SONJA BROWN en DOREEN VERMAAK
Geweld en plundering gaan vandag lustig voort in dele van Gauteng en KwaZulu-Natal, ondanks president Cyril Ramaphosa se waarskuwing dat diegene agter die gewelddadige betogings en anargie gearresteer en vervolg sal word.
Die Gautengse provinsiale wetgewer het kommer uitgespreek oor die geweld wat in die provinsie broei, omdat dit “dienslewering belemmer”.
“Inwoners van Gauteng het gesukkel om by hulle werkplek te kom as gevolg van beperkte toegang, en dienste word in die hele provinsie ontwrig,” lui ‘n verklaring van die wetgewer.
As gevolg van onluste is dienste soos inentings in geaffekteerde gebiede gestaak.
Die wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid het ‘n beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om streng maatreëls in te stel om die voortgesette protesaksies regoor die provinsie te hanteer.
Foto’s op sosiale media wys betogers wat verskeie paaie geblokkeer en “beswaarmakers” wat met gesteelde TV-stelle, wasmasjiene en winkeltrollies tot oorlopens toe vol op die vlug slaan.
In Johannesburg is geboue aan die brand gesteek. Die polisie het gesê dat sommige dele van die M2 in Johannesburg ook weens die betogings gesluit is.
Eiendomme was glo geplunder oor die tronkstraf wat verlede week aan oudpres. Jacob Zuma opgelê is.
KwaZulu-Natal is die naweek swaar getref deur betogings, en Maandag kon vlamme van die dak van ‘n winkelsentrum in Pietermaritzburg gesien word terwyl hordes mense daar ingestorm het om te buit.
Tientalle motors is die naweek in Johannesburg en KwaZulu-Natal verbrand en die polisie het gesê 219 mense is tot dusver in hegtenis geneem.
‘n Bejaarde man is bebloed in die straat net buite die Letsoho-winkelsentrum in Katlehong gevind. Hy is doodgeskiet tydens plundering in die winkelsentrum. Dit is nie bekend wie die man geskiet het nie, maar inwoners beweer dat veiligheidswagte met lewendige ammunisie losgebrand het in ‘n poging om die plunderaars weg te jaag.
Mens kan nêrens polisieteenwoordigheid in enige van die videos sien behalwe waar hulle self van die gesteelde goedere in ‘n polisie-minibus laai nie.
Selfs die EFF-leier Julius Malema vra: “Waar is die leiers wat met hulle mense moet praat? Of is hulle bang vir die mense? En as hulle bang is, hoekom is hulle dan leiers?”
Volgens hom moet die leiers eerste intree, en daarna die SAPD en SANW.
In KZN het die volgende plaasgevind:
Durban
ln Mayville naby die stad is ‘n moskee aan die brand gesteek.
In KwaMashu by die Bridge City Mall is daar geplunder.
Makro in die Cornubia-sakekern is versper en geplunder.
Winkels is in Glenwood by die Glenwood Village Mall geplunder. Dit het versprei na ander dele van Glenwood.
Daar is ‘n onenigheid tussen wetstoepassingsbeamptes en gepeupel in Moss Kolnick-rylaan in Amanzimtoti, suid van die stad.
Pietermaritzburg
Brookside Mall is aan die brand gesteek en plundering duur voort.
Plundering is ook in die sentrale sakegebied aangemeld.
Die Edendale Mall is leeggesteel.
Brande het by die Polly Shorts-sentrum in Mkondeni uitgebreek.
Noordkus
R74-snelweg in KwaDukuza is met brandende versperrings gesluit.
Die R74 is naby Thulini versper, wat Kranskop en Maphumulo van mekaar afsny.
Binneland
Die N3 by die Mooirivier Toll Plaza bly gesluit uit vrees vir verdere aanvalle, nadat ‘n tolhokkie die naweek deur ‘n vuur gelykgemaak is, saam met die aansteek van meer as 30 vragmotors. Plundery was ook ongebreideld in Mooirivier.
Onrus is ook berig in Nottingham Road in die KZN Midlands.
Berigte oor plundering en onrus het ook van Howick gekom.