Skip to main content

Met die pandemie wat deesdae byna allersoorheersend is in elkeen van ons se bestaan, hunker baie mense net na positiwiteit en maniere om die lewe so ‘n klein bietjie makliker vir hulself te maak.

Een manier is om net weer ‘n slag in beheer te voel en hier is maniere hoe om jou eie bestaan makliker te maak:
 Beplan vooruit – Die meeste suksesvolle mense se geheim vir sukses is die feit dat hulle kan deligeer en ook omdat hulle hul tyd goed bestuur en beplan. Maak ‘n punt daarvan om byvoorbeeld Sondagaande lysies op te stel vir die komende week, bv. elke dag se etes en ander inkopies, afsprake wat gemaak en nagekom kom moet word, ens. Veral nou is dit belangrik om winkels te vermy, en lysies is wonderlike hulpmiddels om seker te maak jy drentel nie in winkels rond nie en onthou alles wat jy nodig het.

Groot hipermarkte is gerieflik omdat jy feitlik alles daar kan koop, van medisyne tot kos en hardewarde. Beplanning sal jou tyd en geld spaar.
 Kalenders en dagboeke – Slimfone het deesdae kalenders wat jou boonop outomaties van afsprake en belangrike gebeure herinner. Kom in die gewoonte om dit te gebruik en saans vinnig te kyk wat die volgende dag kan gebeur. Dis handig om sommer aan die begin van die maand alle verjaarsdaggeskenke te koop, veral met kleuters wat byna elke week ‘n verjaarsdagpartytjie het.
 Moenie uitstel nie – Doen goed dadelik! Die oproep na jou versekeringsmaatskappy, daardie mediese eis wat uitgesorteer moet word of rekeninge wat betaal moet word. Maak ‘n punt daarvan om ten minste een keer ‘n maand liassering te doen. Deesdae is daar wonderlike rekenaarprogramme en telefoon-apps wat soos ‘n persoonlike assistent vir jou optree.
 Begroting – Stel ten minste een keer elke ses maande ‘n behoorlike begroting op met AL julle maandelikse uitgawes. Vermy skuld en moenie geld uitgee wat jy nie het nie.
 Koop in grootmaat – Sekere huishoudelike produkte soos toiletpapier, waspoeier, skottelgoedwasmiddels en seep gaan jy vir die res van jou lewe moét koop. Koop dit in grootmaat aan, sodat jy nie onnodige laataand reise na die 24-uur-geriefswinkel toe hoef te onderneem nie. ‘n Gevriesde brood in die vrieskas as nood-hulpbron en ‘n paar sakkies gevriesde melk is ook ‘n goeie idee. Dit is ook handig om altyd ‘n paar klaargemaakte etes in die vrieskas te hê vir daardie dae wat jy onbepland eenvoudig uit tyd vir kosmaak raak.
 Debietorders spaar tyd – Maak die lewe vir jouself makliker deur sekere rekeninge met ‘n maandelikse debietorder te betaal.
 Hou ‘n aparte lêer in die kluis met belangrike dokumente: Elke huishouding behoort ‘n lêer te hê met al die belangrike inligting indien iemand iets oorkom of selfs sterf, soos testamente, bankbesonderhede, wagwoorde vir sekere rekeninge ens. Maak seker jou nommers en belangrike kontakte is nie net op jou foon gestoor nie.
 Sleutels! Hoeveel ure van jou lewe het jy al na sleutels gesoek? Kry ‘n sleutelhouer met hakies in jul huis waar jy altyd heel eerste die sleutels ophang. Dis ook nie ‘n slegte idee om ‘n spaar stel van jou huissleutels êrens te hou in geval van ‘n noodgeval nie.

 Jy en jou motor – sorg dat jou petroltenk nooit onder kwart is nie. En maak seker jy weet waarheen jy ry voor jy in die motor klim. Vra eerder vir iemand om die aanwysings te herhaal; dit kan jou ure se verdwaal spaar.
 Die aand voor die tyd in huise met kinders – pak kosblikke die aand voor die tyd, maak seker huiswerk is gedoen en dat sy/haar skoolklere en spesiale sportklere soos swembroeke gereed is vir die volgende dag.
 Leer jou kinders van kleinsaf om self op te ruim – opruim kan ‘n bietjie opwindender wees as jy ‘n kombuishorlosie gebruik en die japsnoete uitdaag om die horlosie te “wen’’. ‘n Klein beloning kan dit ook prettiger maak. Saans kan jou kinders ook deur elke vertrek stap en al hul goed kamer toe vat voor hulle gaan slaap.
 Kry hulp! Kry ‘n paar vriende op wie se knoppie jy kan druk as jy regtig in die nood is. Jou oppasser is dalk siek of jou kind moet dringend dokter toe terwyl jy uitstedig is. Daar moet ten minste drie vriendinne op jou lysie wees wat jy beslis kan bel as die nood druk. En sorg dat hulle die vrymoedigheid het om vir jou dieselfde te kan vra.
 Organiseer jou kaste – Al is jou kaste nie pynlik netjies nie, spaar dit soveel tyd as jy min of meer weet waar om vir goed te soek. Vou byvoorbeeld T-hemde op ‘n manier dat jy die ontwerp kan identifiseer sonder dat jy dit oop hoef te vou.
 Sokkies – probeer om ‘n hele klomp pare sokkies van presies dieselfde soort en ontwerp te koop, soos jou swart sokkies vir werk.
 Multi-vitamiene: maak ‘n punt daarvan om vir jou gesin soggens multi-vitamiene soos ekstra vitamiene C te laat drink.
 Maak seker julle het ‘n plan in geval van nood: selfs al is dit nie ‘n lekker onderwerp nie, moet jy met jou kinders gesels oor wat hulle behoort te doen indien inbrekers in die huis is of indien hulle enige nood of gevaar beleef, bv. wie om te bel, waar die paniekknoppies is, ens.
 Leer om nee te sê. Soms moet ‘n mens ter wille van jou eie welstand doodgewoon ‘nee’ sê wanneer jou tyd min is of jy self siek of moeg is.
 Maak gebruik van dienste en tegnologie: Deesdae is daar wonderlike maniere om die lewe makliker te maak, soos deur jou voorskrifmedisyne elke maand aanlyn te bestel sodat jy die wag in lang rye kan vryspring, om medisyne te laat aflewer en om aanlyn-inkopies te doen.

 

Leave a Reply