Aanlyn-afleweraars het nuwe Covid-regulasies. Voordat jou aanlyn-bestellings by jou sal uitkom, gebeur die volgende:
Koeriers moet daagliks termies geskandeer word en moet deur die dag gesaniteer word;
Alle toerusting en materiaal wat gebruik word, moet meer as een keer per dag gesaniteer word;
Koerierbestuurders moet met gesigmaskers toegerus wees;
Sanisasieprosesse moet in plek wees wanneer pakkies en ander items aan verbruikers oorgedra word;
Voertuie moet daagliks gesaniteer word voor die aanvang van ‘n skof;
Alle aanwysings ten opsigte van gesondheidsprotokolle en sosiale afstand om die blootstelling van persone aan Covid-19 te voorkom, moet gevolg word t.o.v. verpakking en verspreiding,
Die huidige regulasies bepaal dat koerier- en afleweringspersoneel minstens ‘n een en ‘n half meter afstand van ander bestuurders en klante moet hou wanneer hulle aflewerings doen.
Koerier- en afleweringsdienspersoneel is ook verbied om die huis van ‘n klant binne te gaan as sodanige klant en ander inwoners in die onmiddellike omgewing nie ‘n gesigmasker of ‘n tuisgemaakte voorwerp dra wat die neus en mond bedek nie.
Dit is die bevele van die Minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Stella Ndabeni-Abrahams, vir koeriers en aflewerings onder die aangepaste vlak 4 van Suid-Afrika.
Die bykomende reëls sluit in:
Reëls vir kleinhandelaars
Kleinhandelaars mag tans alle goedere aanlyn verkoop, met die uitsondering van alkohol en ander verbode goedere.
Die regulasies bepaal egter dat die goedere in Suid-Afrika vervaardig moet word om “die sosiale en ekonomiese ontbering wat deur die pandemie veroorsaak word, te beperk”.
Verbruikers moet plaaslike bedrywe en plaaslike produsente ondersteun.
Bykomende vereistes sluit in:
Kleinhandelaars moet voorsiening maak vir soveel betalingsopsies as moontlik vir verbruikers. Dit moet gebaseer wees op die vermindering van die risiko’s vir die oordrag van Covid-19. Armer verbruikers moet ook toegang tot afleweringsdienste gebied word.
In die verpakking van goedere moet kleinhandelaars skriftelike riglyne aan klante verskaf oor hoe om hulle goed veilig te ontsmet voor gebruik.
Kleinhandelaars moet invorderingsprotokolle instel om te verseker dat die koerier- of afleweringsdienspersoneel voldoende sosiale afstand hou wanneer hulle goedere in ‘n pakhuis of depot afhaal. Alle goedere moet volgens die riglyne wat deur die Nasionale Departement van Gesondheid gepubliseer is, ontsmet word.