Skip to main content

Miskien moet ons nie verbaas wees oor die vermoë van honde om COVID-19 op te spoor nie, want ons weet teen die tyd al dat hulle neuse verstommend is.

Honde kan help om hipoglukemie by diabete op te spoor, of hulle waarsku mense vooraf oor ‘n epilleptiese aanval en
snuf sommige kankers uit. Hul groot potensiaal in die hantering van die huidige pandemie is slegs een van die vele voorbeelde van hoe intelligent honde is.

By die Universiteit van Pennsylvania word agt Labrador Retrievers ingespan om te bepaal of hulle enige spesifieke reuk kan optel wat met die virus geassosieer kan word. Sou hulle dit wel kon bepaal sal honde geleer en ingespan kan word in openbare plekke soos by hospitale, besighede en lughawens om mense te kan identifiseer wat moontlik die virus het, al toon hul nie van die tipiese simptome nie.

In Julie het Duitse navorsers getoon dat opgeleide honde kon onderskei tussen speekselmonsters van mense wat met die virus besmet is en diegene wat nie was nie. Finland, Dubai en Switserland het honde begin oplei om positiewe gevalle uit te wys om die virus te bekamp.

In Suid Afrika help honde die polisie om onder andere vermiste persone op te spoor en dwelms uit te snuffel. In ander lande word honde selfs gebruik om siektes soos malaria uit te wys. Volgens ‘n artikel wat aanlyn gepubliseer is deur die Washington Post, het die direkteur van die Working Dog Center by die Penn’s School of Veterinary Medicine, Cynthia M. Otto, gesê dat navorsing gevind het dat virusse spesifieke reuke het.

Wat Covid-19 betref, het sy gesê hulle is nie seker of die honde op die reuk van die virus of die virus self, of ‘n kombinasie van die twee sal reageer nie.

In die Verenigde Koninkryk glo wetenskaplikes ook dat opgeleide honde sal kan help om mense te identifiseer wat die koronavirus onder lede het aangesien hul reeds honde het wat kanker, malaria en Parkinson’s kan identifiseer.
Dit neem ongeveer 6-8 weke vir ‘n hond wat reeds opgelei is, om te leer om ‘n nuwe reuk te identifiseer, terwyl dit 3-6 maande neem om die proses vir ‘n hond te leer wat nog nooit opgelei was nie.

Leave a Reply